Wellington se belanghebbendes wat verlede Donderdag die Pamoja-simposium bygewoon het, weet nou wat dit verg om plaaslike welvaart te waarborg.
Werksessies, met die fokus op gemeenskapsbelange, is op dié simposium aangebied, wat in samewerking met die plaaslike ACVV en GPF-takke gereël is. Dit sluit in die welvaart van jeug op plaaslike vlak, sowel as gemeenskapsveiligheid.
Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg
Die oggendsessie is deur die gasspreker Ton van der Smit van Eye for Others gelei. Hy het praktiese en filosofiese insigte bespreek oor verskeie benaderings om ’n gemeenskap se probleme aan te pak.
“’n Gemeenskap se karakter word weerspieël in die manier waarop sy kinders behandel word. Die kind is die kern van gemeenskapsbelange, en hul ouers is die fundamentele grondslag wat die kind se welsyn bepaal,” meen Van der Smit.
Lede van die gehoor is willekeurig in groepe verdeel waar praktiese probleemoplossings en oefeninge uitgevoer is.
Die oefeninge sluit in belange van perspektief, Ubuntu en probleemoplossings.
Van der Smit glo belangrike probleme óf oplossings word maklik misgekyk wanneer doelbewuste fokus nie daaraan verleen word nie.
“It’s easy to miss something you’re not looking for,” sê hy.
“Diegene wat ’n probleem wil oplos, moet saam vergader en die probleem kan waarneem, sonder om te veel daaroor te gesels. Mense is te vinnig om te praat, maar stadig om te doen.”
Hy glo ’n mens moet kan dink, praat en doen uit die goedheid van ’n mens se hart. “Jy kan net jouself verander. Jy kan nie ander mense help wat nie self die besluit neem om te verbeter nie.”
Gemeenskapsveiligheid
Die Wes-Kaapse departementshoof van gemeenskapsveiligheid, adv. Yashida Pillay, het ingrypings tot verbetering van misdaad-bekamping in ’n voorlegging uitgespel.
“Ons tree op in samewerking met plaaslike veiligheidsorganisasies, soos die polisie, GPF en buurtwagte om die provinsiale moordsyfer teen 2029 met 50% te verlaag.
“Dit val onder die provinsiale taakmag LEAP, wat verantwoordelik is om provinsiale veiligheid reg oor die Wes-Kaap op distriks- en munisipale vlakke te verseker.”
Pillay sê dié taak word holisties benader met statistieke- en data-analise deur interministeriële samewerking met, onder meer, die departement van gesondheid.
“Die doel is om wetstoepassing op te skerp deur behoorlike koördinering op alle vlakke van veiligheid toe te pas.
“Dit beteken om veiligheidsinfrastruktuur in openbare plekke te verbeter en om maatskaplike veiligheidsfaktore teen geweld te versterk.”
Sy verduidelik die departement sal in die komende maande inspeksies by 151 Wes-Kaapse polisiekantore uitvoer.
“Pogings gaan aangewend word om te verhoed dat veiligheidstrukture in enkele silo’s bedryf word, maar eerder te mik na ’n samehorige en holistiese netwerk.”
Na afloop van die byeenkoms, sê die ACVV se Steven von Schlicht daar sal binnekort met die opvolg begin word. “Alle organisasies, ondernemings en instansies wat deelgeneem het, sal hul beskikbare hulpbronne asook probleme wat aangespreek moet word, in ’n lys saamstel, met ’n plan van aksie om dit aan te spreek.”
Verskeie opsies is reeds genoem met betrekking tot die Pamoja-pad vorentoe, en ’n aktiewe plan sal binnekort voorgelê word.
“Die waarde van so ’n dag, veral in terme van netwerkgeleentheid, is egter van onskatbare waarde. Verskeie deelnemers het waardering uitgespreek vir die blootstelling en interaksies wat tydens die simposium ervaar is.
* Stakeholders in Wellington gathered at the Pamoja Simposium that was hosted last Thursday. The day was led by workshops facilitated by Ton van der Smit from Eye for Others, followed by a presentation about community safety by the Provincial Head of Department of Community Safety, Adv Yashida Pillay.




