Die Simondium-behuisingsprojek wat in September 2023 deur diee Drakenstein-munisipaliteit (DM) se vorige uitvoerende burgemeester, Conrad Poole, asook Tertuis Simmers, provinsiale minister van infrastruktuur, bekendgestel is, ervaar tans ’n terugslag weens omgewingsgoedkeuring wat aan die provinsiale departement van omgewingsake verskaf moes word.
Volgens Eda Barnard, die munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, is die behuisingsprojek steeds in die pre-konstruksiefase met die beoogde voltooiingsdatum wat nog nie vasgestel kan word nie, sê Barnard.
“Dié behuisingsprojek is ’n multi-jaarprojek en gaan in alle waarskynlikheid oor twee tot drie boekjare ontwikkel word. In dié stadium is dit moeilik om ’n presiese voltooiingsdatum te verskaf aangesien ’n gewysigde omgewingsaansoek by die nasionale departement van omgewingsake ingedien moes word weens die herbelyning van die toegangspad, en dié vereiste proses vertraag nou die projek,” het Barnard gesê.
“Aanvanklik sou konstruksiewerk voortgegaan het op die gedeelte van die terrein wat nie deur die gewysigde goedkeuring geraak word nie. Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake het die munisipaliteit egter in kennis gestel geen konstruksie mag op dié terrein voortgesit word totdat die gewysigde omgewingsgoedkeuring verkry is nie.”
LEES OOK: Sooi gespit vir 384 nuwe huise
Die behuisingsprojek beoog om 384 huise aan inwoners in en om Simondium te besorg.
Dit sal die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur en die Drakenstein-munisipaliteit R77 miljoen kos, met albei entiteite wat elkeen 50% sal bydra.
Die Asla-groep, wat as kontrakteurs optree, het reeds die afgelope Maandag met die ondergrondse werk begin, wat onder meer die voorbereiding van die grond en aanlê van waterpype insluit.
Die GOOD-party in Drakenstein het in Maart vanjaar kapsie gemaak teen dié kontrakteurs en beweer dat die konstruksiegroep se tender goedgekeur is sonder om die nodige tender-riglyne te volg.
Die DM het egter dié bewerings ontken, en gesê die moontlike aanstelling van die Asla-groep is aan die raad geopper en goedgekeur.
LEES OOK: R23m Simondium housing tender questioned
Poole het tydens die bekendstelling van die behuisingsprojek in September 2023 gesê die projek was reeds van sy eerste termyn in 2016 ’n doelwit.
Die oogmerk was om dit twee jaar gelede van stapel te stuur, maar weens die Covid-19-pandemie is die eerste sooi eers in 2023 gespit.
Die 384 huise sal van verskillende groottes wees om sodoende verskillende gesinne te huisves, met ’n paar wat ook rolstoel-vriendelik sal wees.
Die grond waarop die behuisingsprojek ontwikkel word, is by die Fair Cape-suiwelprodusente gekoop.
Die DM sowel as die provinsiale departement van infrastruktuur beoog om die huise ten volle te subsidieer voordat dit oorhandig word.





