“Sweets” – hierdie tuisgemaakte dwelmmiddel bevat hoofsaaklik Mandrax of tik, wat met poeierkoeldrank, of “sherbert”, gemeng en in koeldrankdoppies verpak word.Foto: Facebook/WAG/Stop

Credit: SYSTEM

Die raadslid Stephan Landsberg het op die Wellington Aksie Groep (WAG/Stop) op Facebook ouers se aandag gevestig op ’n nuwe tuisgemaakte dwelmmiddel wat onder kinders in Wellington voorkom.

“Ouers, neem kennis van ’n nuwe dwelmgier onder kinders. Dwelms word gemeng met Drink O Pop of soortgelyke poeierkoeldrank en dan word dit in die doppies gesit en aan kinders verkoop,” lui Landsberg se waarskuwing.

Hy sê polisiemanne het dié nuwe gier onder tieners in Wellington in verskeie voorvalle ontdek.

Iwan Koen van Winelands Tactical Solutions (WTS) sê hy en sy snuffelhonde het ook al op soortgelyke tuisgemaakte dwelms afgekom.

“Verskeie van dié soort kombinasies van poeierkoeldrank, of sherbert, wat die kinders as sweets eet en met sommige dwelms meng, bestaan. Dit word dan so in koeldrankdoppies verpak en verhandel.”

Hy sê hoewel nog geen amptelike ontleding oor die soort dwelms daarin gedoen is nie, word dit in die algemeen met dwelms soos Mandrax of tik gemeng.

“Dit is gewis iets waarvoor ouers, veral dié van tieners tussen 17 en 18 jaar oud, op die uitkyk moet wees,” voeg Koen by.

Enigiemand wat soortgelyke dwelms by kinders kry, word versoek om die middel by hulle af te neem en dit dadelik by hul naaste polisiekantoor in te handig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article