Aksiebelaaide rugby kan die naweek geniet word wanneer Hillcrest United-rugbyklub van Wellington sy jaarlikse sewestoernooi Saterdag 22 Januarie op Faure-stadion in Paarl aanbied.
Hierdie toernooi word die vyfde jaar aangebied en beloof om groter te wees met prysgeld ter waarde van R15 000 op die spel.
Vanjaar neem 16 spanne van oor die Boland- en WP-rugbystreke aan die toernooi deel. Tydens die laaste toernooi, wat in 2020 gehou is voordat Covid ingetree het, is Wesbank as die kampioen gekroon.
Die spanne wat vanjaar sake vir die groot prys gaan uitspook, is: Hillcrest, Newtons, Roses, Wesbank A & B, Darling, Mooreesburg, Saron, Hands & Hearts, Vinyards Paarl, Warriors, Spartans, Ubuntu en Zhakai Kings,
Oor die jare het sewesrugby baie in die Boland en WP gegroei.
Die organiseerders nooi graag almal om die dag saam te kom geniet. Tariewe beloop R20 per persoon, R10 per voertuig en R10 per koelboks. Lekker kosstalletjies, koeldranke en musiek sal beskikbaar wees. Die hekke open reeds om 08:00, en wedstryde skop om 09:00 af. Toeskouers kan hul eie gazebo’s oprig. Alle Covid-protokol sal gevolg word wat die dra van maskers, veilige afstand en handreiniging betref. Bel Jovan-re Cupido by 073 296 3575 of Johan Fransman by 073 733 9198 vir inligting.




