Die Jive Young Gardens-sewesrugbytoernooi vind op 16 en 17 Februarie in die Boland-rugbystadion in Wellington plaas. Die toernooi sou aanvanklik in die Faurestraat-stadion plaasgevind het, maar moes noodgedwonge na Boland-stadion skuif.
Vanjaar se toernooi word oor twee dae beslis, met vier laerskool- en vier hoërskoolspanne wat gaan deelneem. Altesame 16 senior spanne gaan sake om die prysgeld van R20 000 uitspook, met die wenspan wat met ’n stewige R10 000 gaan wegloop.
Young Peoples het die kroon verlede jaar verower, maar hulle kan verseker wees daarvan dat die ander klubs hul bes gaan doen om die bordjies te verhang.
Die gasheer, Young Gardens, asook Violets, Paarl Rangers, Pêrel United, Young Standards, Violets, Allandale, Laer Paarl (Blues), Kylemore, Vineyards, Windmeul en Albions is die klubs wat reeds aangedui het hulle gaan deelneem.
’n Aantal plekke is nog oop vir spanne wat wil inskryf.
Kontak Davey de Kock by 073 371 0052 of Ivor van Schoor by 082 432 2966 om in te skryf.
Inskrywingsgeld vir die senior spanne is R1 000 en moet voor of op 12 Februarie betaal word. Die bekendstelling en loting van die toernooi word op 12 Februarie in die banketsaal van die Paarl-stadsaal gehou.
Kontak Lionel Matthee by 072 239 2181 om stalletjies te huur om kos of ander produkte te verkoop.
Die hekke open Vrydag 16 Februarie om 17:00 en Saterdagoggend om 07:30. Toegangsgeld is R30 vir toeskouers ouer as 12. Kinders tussen 6 en 12 jaar oud betaal R20. Geen parkering is in die stadion beskikbaar nie.





