Marcelino Tities het tragies gesterf.

Credit: SYSTEM

Die negejarige Marcelino Tities van Paarl het verlede Vrydag (8 Julie) tragies gesterf toe hy onder ’n sleepwa op die Sneeukop-sitrusplaas beland het.

Volgens sy oom Jakobus Tities het hy hom Vrydagmiddag na die toneel gehaas nadat hy van die voorval in kennis gestel is.

“Marcelino het blykbaar tussen die bakkie en die waentjie wat gesleep is, gestaan. Die bestuurder kon nie agter hom sien nie en het net gehoor hoe skreeu die kinders. Die man het toe die bakkie gestop en toe laat weet hy eerste die bestuurder van die plaas [van wat gebeur het]. Toe ek by hom kom, het ’n ander man op die toneel met Marcelino regop gesit. Ek het nog met hom gepraat en gesê hy moet sterk wees, want hy kan dit maak en ek gaan hom mis as hy ons verlaat.

“Ek het sy geboortesertifikaat gaan haal en toe ek terugkom, toe sien ek hulle het hom toegegooi. Die een vrou het vir my gesê hy is nie meer met ons nie. Ek het weer na Marcelino toe gegaan en weer gaan sit en met hom gepraat. Agterna, toe ek voel dat hy begin koud raak, het ek eers besef hy is nie meer daar nie.”

Tities sê hul familie, Marcelino se ma, Nicolene Tities, sy pa, Morné Kannemeyer, en sy een oupa, Nicolas Hollenbach, aanvaar die voorval as ’n fratsongeluk. Hulle blameer glad nie die man wat die bakkie bestuur het nie. Tities sê die man het glo gereeld op die plaas kom nartjies koop en bring altyd sy waentjie saam, waarin die vrugte gepak word. Die kinders het Vrydag oudergewoonte die man gaan help nartjies optel toe die ongeluk gebeur het. Hy het altyd die kinders met ’n geldjie vir hul hulp vergoed.

“Die geldjie wat Marcelino gekry het, was net genoeg om vir hom ’n speelgoedvuurwapen te koop. Ek het nog die speelding uit sy sak gaan haal – dit was die laaste.

“Een iets wat ek kan sê, is dat dit nie baat ons gaan nou vinger wys nie. Dit was bloot ’n ongeluk. Wat Marcelino nou oorgekom het, is maar nou net om vir ons ander kinders te wys hoe gevaarlik ’n ryding is.”

Marcelino se familie het Dinsdagoggend die hartseer taak gehad om sy liggaam by die lykshuis te gaan uitken. Volgens Tities was dit nie maklik om sy susterskind leweloos te sien lê nie. Hy sê Nicolene en Kannemeyer is albei sterk, maar dit is steeds ’n groot slag vir hulle.

“Hy was ’n baie goeie klong, maar hy het ook sy afdae gehad. Maar hy het ’n duur les betaal met sy lewe en ons hou niemand verantwoordelik nie. Marcelino het ’n sagte mens geraak in die laaste tyd. Hy het aan minikrieket deelgeneem en het ook onlangs begin rugby speel.”

’n Vriendin van Marcelino het hartseer in ’n briefie geskryf sy weet nie hoe om haar pyn te beskryf nie en sy gaan baie na hom verlang.

Ronwe Primêr, waar die seun ’n gr. 3-leerder was, het op sy sosialemediablad ook medelye aan die Tities-familie betuig.

“Ons gaan sy vriendelike gesiggie en grappige persoonlikheid vreeslik mis. Sy plekkie in die klas is leeg, maar hy sal in ons harte bly voortleef.”

Kol. Xela, die waarnemende stasiebevelvoerder van die Paarl-polisie, het die voorval, wat omstreeks 18:10 op die Sneeukop-plaas gebeur het, bevestig. Hy sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek, maar niemand is in hegtenis geneem nie.

Geen finale begrafnisreëlings is nog getref nie, maar Marcelino se familie beplan om hom volgende Vrydag (22 Julie) ter ruste te lê.

Marcelino word deur twee susters en ’n broer oorleef.

  • The nine-year-old Marcelino Tities from Paarl died tragically last Friday (8 July) when he ended up under a trailer on the Sneeukop citrus farm after helping to load naartjies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article