’n 13-jarige seun is dood nadat hy op 29 Januarie verdrink het in die munisipale Pentzstraat-swembad in Wellington.
Die omstandighede van die verdrinking is steeds onbekend, maar gereelde besoekers aan die Pentzstraat-swembad sê daar is nie genoegsame toegangsbeheer by die swembad nie en mense ruk handuit in die water.
Die Drakenstein-munisipaliteit ontken egter gerugte dat die Pentzstraat-swembad tot oorlopens toe vol was op die dag van die voorval.
Volgens hulle was op dié spesifieke dag 247 besoekers by die swembad, terwyl die kapasiteit van Pentzstraat-swembad normaalweg 450 is.
Intussen is die maksimum toegelate getalle by alle munisipale swembaddens as volg verminder:
• Pentzstraat: Maksimum 190 swemmers
• Weltevrede: Maksimum 250 swemmers
• Faurestraat: Maksimum 200 swemmers
• Mbekweni: Maksimum 200 swemmers
• Drakenstein: Maksimum 400 swemmers
Meer wetstoepassers is ook by die onderskeie swembaddens teenwoordig.





