Die 13-jarige Caylem Appollis is die afgelope naweek ter ruste gelê nadat hy deur ’n taxi getref is en voor sy dood meer as ’n week lank om sy lewe in die hospitaal geveg het.

Die jong seun was ’n gr. 7-leerder aan Wellington Primêr. Hy het Saterdag ’n pragtige, dog hartseer afskeid gehad toe hy vanuit sy skool se binneplein begrawe is.

Julius Williams, skoolhoof, sê die skoolgemeenskap is steeds geskok oor wat gebeur het en staan bankvas agter Caylem se gesin en familielede.

“Die nuus van Caylem se dood het ons as skoolgemeenskap behoorlik geruk. Ons as opvoeders en leerders verloor ’n skrander leerder met hope potensiaal wat nog wagtend was om ontsluit te word. Verder was hy ’n vrolike, opgewekte en sprankelende jong seun met hope sporttalent.

“Hy het nog onlangs aan twee sewestoernooie in Klapmuts en Bredasdorp deelgeneem, wat hy terdeë geniet het.

“Sy afrigters en spanmaats verwerk die afsterwe van Caylem baie swaar en trane van medelye is sigbaar. Ons dra ook innige simpatie en medelye oor aan die bedroefde familie en vertrou dat God die wond wat Hy geslaan het op Sy tyd sal genees.”

Volgens Williams het Caylem in Weltevrede gewoon, maar het hy op die dag van die ongeluk (25 November) besluit om by sy ouma in die Bovlei-gebied te gaan kuier.

“Hy het die spesifieke dag met ’n fiets gery en is deur ’n taxi van die fiets gestamp, omstreeks 13:00 die middag. Hy is inderhaas na Paarl-hospitaal geneem, wat nie veel aan sy beserings kon doen nie. Caylem is toe die aand omstreeks 19:00 na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.

“Daar het Caylem vir meer as ’n week in ’n koma gelê en geveg om aan die lewe te bly. Inteendeel, die masjiene het hom aan die lewe gehou.

“Dokters het ook bevestig dat daar is niks wat hulle kan doen nie as gevolg van die geweldige breinskade wat Caylem opgedoen het.

“Indien die dokters kon opereer, sou Caylem dalk nie ongeskonde uit die operasie kom nie en dalk ’n verlamming hê. Dit is dus duidelik dat die slag van die ongeluk geweldig hard was.

“Sy brein het geweldig seergekry en hewig opgeswel met sy linkerbeen wat moontlik ook gebreek kon wees.”

Die dag van sy afsterwe op 7 Desember was Caylem omring deur sy familie wat gehoop het dat hy beter sou word. Williams voeg by dat Caylem baie gemis sal word, maar dat hulle sy nagedagtenis altyd sal koester.

Kol. Johan Barkhuizen, bevelvoerder by die Wellington-polisie, het die voorval by navraag aan Paarl Post bevestig.

Volgens Barkhuizen is die polisie die middag van die voorval na die toneel ontbied.

“Met ons aankoms het ons die seun aangetref wat deur die voertuig raakgery is. Hy is na ’n hospitaal in die omgewing vir behandeling vervoer.

“Die polisie het ’n ruk ná sy hospitalisering bevestiging gekry dat hy oorlede is,” voeg Barkhuizen by.

Hy sê die polisie se ondersoek na strafbare manslag asook rondom die omstandighede van die ongeluk duur voort.

. The 13-year-old Caylem Appollis was laid to rest last weekend after he was hit by a taxi and fought for his life for more than a week in the hospital before his death.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article