Ek onthou dit soos gister (al is dit nou al ’n klompie jare gelede!) toe my Afrikaans-onderwyser, mnr. Stephen Bothma, by New Orleans Senior Sekondêr, met ’n rooi pen “Toon potensiaal!” in my opstelboek geskryf het.
Dit het my só gemotiveer dat ek sommer elke dag daarna geskryf het. Ek het dagboek gehou, gedigte, kortverhale en selfs probeer liedjies skryf. Sommige van my klasmaats het selfs vir my gevra om hul opstelle te skryf. Ek het nooit opgehou skryf nie, omdat iemand, ’n onderwyser, vir my laat glo het ek kan skryf.
Ek was reeds getroud en my twee kinders, Catherine en Clement, was al gebore toe ek besluit ek wil vir die persoon wat my geïnspireer het om kreatief te skryf, gaan dankie sê.
Dit was sy vrou, Cheryl, wat ons ook intussen ontval het, wat via Facebook vir my gekontak het om te sê dat hy al ’n hele paar jaar gelede aan ’n hartaanval beswyk het.
Ek was opreg spyt dat ek nie vir hom self kon sê hoe dankbaar ek was vir daai twee woorde wat my gemotiveer het om uit te hou en aan te hou nie.
Dit het my laat dink aan die skrif in die Bybel wat lui: “Wat jy wil doen, moet jy gou doen . . .” Vandag, ná soveel jare, onthou ek nog ander onderwysers by die laerskool Paulus Joubert Primêr, my Sondagskool- onderwysers en selfs jeugleiers wat ’n massiewe invloed op my lewe gehad het. Ek en my sussie, Margareth, het al in ’n stadium ’n lysie gemaak van mense wat so ’n impak op ons lewens gemaak het, vir wie ons wil gaan dankie sê.
Ek het oor die jare besef dat al het jy nie geld of geskenke nie, die woord “dankie” vir iemand besonder baie kan beteken.
So ’n week gelede in ons gemeente het die prediker iets moois gedoen. Hy het sy seun, wat verlede jaar in matriek was, se onderwyseres wat ook teenwoordig was, bedank vir die uithouvermoë en geduld met sy seun.
Ek was natuurlik in trane. Ek het besef, dis nou presies wat ons almal behoort te doen. Om terug te gaan en hulde te bring aan iemand wat na jou uitgereik, of na ’n geliefde omgesien, omgegee het, ’n klankbord was toe niemand anders daar was of daarvoor kans gesien het nie.
Ons kla te vinnig en so maklik “met ’n witbrood onder die arm” terwyl ons eintlik net moet besef dat ons soveel het om voor dankbaar te wees. Kom ons begin ’n “Attitude of gratitude”! Kom ons staan stil, kyk rondom ons, luister vir ’n verandering na ander se stories sonder om eerste te begin kla as iemand na jou welstand vra.
Het jy al die afgelope tyd met mense gesels wat iemand aan die dood afgestaan het? Sommige wat nie een nie, maar selfs twee of meer geliefdes aan die dood afgestaan het. Het jy geluister na hul besef van genade, net vir die feit dat hulle uitgespaar is, selfs al is die pyn steeds daar? Het jy al met iemand gesels wat siek aan ’n bed gekluister lê, maar steeds dankbaar is dat hy ten minste elke oggend sy oë kan oopmaak?
Ek het dit die afgelope tyd ervaar. Die dankbaarheid van mense wat soveel verloor het, maar steeds weier om negatief te wees of te kla. Hulle sien steeds rede om dankbaar te wees. Ek leer so vreeslik baie by sulke positief ingestelde mense, en ek dink dit kan nogal aansteeklik wees as jy jouself daarvoor oopmaak.
Ek het besluit om ’n Facebook-blad te begin waar mense hul dankbaarheid kan toon of hulde bring aan iemand wat in ’n stadium van jou lewe ’n impak gemaak het.
Besoek gerus die blad “Attitude of Gratitude” of stuur jou skrywe met ’n foto van die persoon aan my by 076 905 2557, en ek plaas dit daar. Dalk bring ons selfs hiermee mense bymekaar wat heel moontlik aanvaar het dat jy van hom of haar vergeet het.
Dalk sien ’n vriend of familielid jou inskrywing, en so kring die positiewe energie uit.
Kom ons waardeer ander, eerder as om te kla. In hierdie ongekende tyd het ons positiewe stories nodig, stories wat ons moed gee om nie op te gee nie.
Om steeds die goeie in ander te sien, maar meer as ooit om hulde te bring terwyl mense nog lewe.




