’n Nuwe bedrogspul doen landwyd die ronde en dit lyk asof Paarliete dit nie gespaar is nie – dit nadat talle mense WhatsApp-boodskappe gedeel het op groepe waarin dit blyk die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) sal die R350-maatskaplike toelaag vir noodverligting (SRD) “tot R700 per maand tot Maart 2023 verdubbel”.

“In 2022 sal meer as 575 000 burgers ’n R700-betaling ontvang. Dit is deel van Sassa se 2022-begroting om alle SA burgers te ondersteun. Aansoeke het begin en burgers wat aansoek gedoen het, het hul R700-betalings begin kry,” lui die boodskap.

Mense moet dan hul bankbesonderhede en persoonlike inligting op die webtuiste invul om vir die geld in aanmerking te kom.

Sassa het egter ’n kennisgewing op sy sosiale media gedeel waarin hy dit duidelik maak dat die boodskappe wat op sosiale media sirkuleer, nie die waarheid is nie.

In nog ’n slinkse bedrogspul wat die ronde doen word beweer dat mense koopbewyse ter waarde van R700 gaan ontvang en dat dit aan werklose ouers en ontvangers van die R350-toelaag vir maatskaplike noodverligting (SRD) oorhandig gaan word.

“Ouers wat werkloos is of ontvangers van die R350-toelae is, kwalifiseer om hul ondervoede kinders in die genoemde ouderdomsgroep vir hierdie wanvoedingskoopbewys te laat registreer,” lui die kennisgewing.

Sassa het die publiek gewaarsku dat die plasings vals is.

“Die agentskap bied nie so ’n koopbewys aan nie. Ons doen ’n beroep op mense om nooit hul ID-nommers te gee aan enigiemand wat hulle as ’n Sassa-amptenaar voordoen nie. As hulle twyfel, moet hulle die naaste Sassa-kantoor besoek om te bevestig of 0800 601 011 skakel,” het die agentskap gesê.

Sassa het bygevoeg dat mense daarop moet let dat die advertensies vals is en nie van Sassa af kom nie.

“Geen bykomende toekenningstipe word aangebied behalwe dié wat deur Sassa aangekondig is nie.”

Verlenging van R350-toelae

Die R350-toelae is verlede week met ’n jaar verleng en sal nou in Maart 2023 verval.

Pres. Cyril Ramaphosa het die aankondiging in sy Staatsrede op Donderdag 10 Februarie gedoen en gesê die toelae bied ondersteuning aan meer as 10 miljoen werklose mense wat die kwesbaarste vir die impak van die pandemie is.

Mense wat hul R350-toelaag vir maatskaplike noodverligting by die poskantoor afhaal, word versoek om daarop te let dat die dag waarop hulle hul toelae afhaal, bepaal word deur die laaste drie syfers van hul ID-nommer.

Haal jou R350-toelae by die poskantoor in Februarie af:

24 Februarie: 083 en 088;

25 Februarie: 084 en 089; en

28 Februarie: 080 en 085.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article