’n Sindikaat, waaronder ’n Sassa-werknemer, wat Sassa-toelaes vervals het, is vasgetrek op Malmesbury.


Ná ’n gesamentlike wetstoepassingsaksie deur SASSA en die Valke, op 13 Februarie in Malmesbury, is tien mense in hegtenis geneem op aanklag van bedrog en korrupsie. Byna R2 miljoen is hier ter sprake.

Die verdagtes sal na verwagting vandag, Woensdag 15 Februarie in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

Een van die 10 verdagtes, is ’n Sassa-werknemer by Sassa se Malmesbury-dienspunt.

Die arrestasies volg op ’n intensiewe ondersoek deur Sassa nadat inligting ontvang is dat beweerde bedrieglike ongeskiktheidstoelaes by die Malmesbury-dienspunt verwerk word.

Sassa het ’n verlies van meer as R1,8 miljoen gely weens hierdie bedrieglike toelae uitbetalings. Die ondersoek duur voort en nog arrestasies is op hande.

Shivani Wahab, ’n woordvoerder van Sassa, het gesê dat Sassa onderneem om ’n nul-verdraagsaamheid-benadering te volg en om bedrog en korrupsie hok te slaan.

Sy sê verder dat ’n bedrog-voorkomingstrategie, in lyn met die Nasionale Anti-Korrupsie Strategie, is deur Sassa geïmplementeer en bedrog bewusmakingsveldtogte word gereeld gehou om bewusmaking te kweek.

Persone wat enige vermoede van vermeende bedrieglike aktiwiteite het, moet dit onmiddellik aanmeld via die Sassa-teenkorrupsie-blitslyn by 0800 701 701 of via die Sassa-tolvrynommer by 0800 60 10 11.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article