Die gemeenskap van Saron is in twee geskeur oor die moontlikheid van ’n nuwe winkelsentrum in dié plattelandse dorp.

Die Drakenstein-munisipaliteit se munisipale raad het onlangs in beginsel die vervreemding van ’n erf in Saron goedgekeur met die oog op die bou van ’n nuwe winkelsentrum vir Saron.

Maar buiten die feit dat die hele raad nie ’n konsensus oor dié voorstel bereik het nie, blyk dit dat die inwoners van Saron ook erg verdeeld is oor dié besluit.

Volgens Dan Kotze, ’n lid van die Saron Civic Organisation, behoort die grond wat bestem is vir die ontwikkeling, nie aan die Drakenstein-munisipaliteit nie, maar aan die inwoners van Saron.

Kotze beweer die munisipaliteit het die grond in 2010 by die mense van Saron “gesteel”, en toe dit aan die munisipaliteit uitgewys is, het hy glo gesê die grond is verkeerdelik aan die munisipaliteit oorgedra.

Volgens Kotze het die munisipaliteit in 2021 besluit om die “gesteelde grond” te wettig deur aansoek te doen by die nasionale minister om die grond aan hom te vervreem.

Kotze sê ook ’n klag van diefstal is by die Saron-polisie teen die munisipaliteit ingedien.

“Die breë gemeenskap het al in 2019 en weer in 2021 met ’n petisie van meer as 2 000 handtekeninge besluit geen vervreemding van gronde sal plaasvind voordat die gesteelde grond nie terug is in die naam van die gemeenskap nie en totdat die CPA (gemeenskaps­eiendoms-vereniging) nie verkies word nie.

“Die nasionale minister is ook daarvan in kennis gestel. Drakenstein met sy duistere politieke agenda het ten doel om die laaste grond van ons armes te steel, soos dit vroeër jare die geval was,” het Kotze se skrywe aan Paarl Post gelui.

Kotze meen ook dat die raadslid van Saron nie die belange van die gemeenskap verteenwoordig nie. “Sy verkiesing word bevraagteken en ’n versoek vir ’n herverkiesing is reeds by die IEC,” het Kotze geskryf.

Paarl Post se vryskutjoernalis Samuel Walters het met ’n paar inwoners van Saron gesels om te hoor hoe hulle oor die moontlikheid van ’n nuwe winkelsentrum voel. Walters sê die sake-eienaars met wie hy in Saron gesels het, is gekant teen die oprigting van ’n nuwe winkelsentrum op die dorp.

Walters het ook met ’n paar inwoners gesels wat meen die winkels wat tans in Saron is, se pryse is peperduur.

“Hulle vra net wat hulle wil, want Saron is baie afgeleë en ver van alles. Ek hoop hier kom gou nog ’n winkelsentrum,” het ’n inwoner laat hoor.

Volgens Walters wou niemand egter hul name in die koerant genoem hê nie.

Die Drakenstein-munisipaliteit is op 17 Februarie gevra om op Kotze se bewerings te reageer, maar teen druktyd is geen kommentaar van die munisipaliteit hieroor ontvang nie.. Paarl Post het in 2020 berig die Saron Civic Organisation het op 5 Oktober 2020 ’n optog na die huis van die raadslid van Saron gehou om sy bedanking te eis.

Die groep het beweer die raadslid “neem sy eie besluite” rakende die ontwikkeling van grond en eiendom van Saron sonder dat ’n openbaredeelnameproses gevolg is.

Die groep voer aan dit is teenstrydig met wat die gemeenskap wil hê aangesien hulle eis dat ’n gemeenskaps­eiendoms-vereniging (CPA) eers verkies word.

Die CPA sal dan ingevolge die dokument die mandaat kry om volgens hulle die “proses van moontlike vervreemding, verhuring of verkoop van eiendom / meentgrond in konsultasie met die gemeenskap / inwoners (soos wat dit op die CPA-ledelys verskyn) te inisieer en dienooreenkomstig, waar nodig, te implementeer”.

Die raadslid het op sy beurt die aantygings ten sterkste ontken.

Hy het destyds ’n vergadering met die breë gemeenskap van Saron belê en 2 000 pamflette uitgedeel om inwoners na die vergadering te nooi, maar niemand het opgedaag nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article