Vir 75 jaar al sit die tydskrif Sarie onthou-voorblaaie op die rak met bekende en geliefde gesigte daarop.
Die eerste Sarie het op 6 Julie 1949 verskyn met dié belofte aan derduisende Afrikaanssprekende vroue: Dis jóú tydskrif!
Hierna het die tydskrif deur die dekades onder meer gepronk met van Suid-Afrika se bekendstes op die voorblad: Carike, Minki, Nataniël, Anna-Mart en Amy.
Sedert 2011 het Sarie elke jaar lesers genooi om in te skryf vir sy/haar SARIE Voorbladgesig – ’n wedstryd wat al meer as 75 000 inskrywings gelok het.
Nou, in die 14de jaar, is dit nog groter as voorheen.
Vanjaar vier Sarie sewe dekades met nie minder nie as sewe afdelings en sewe finaliste.
Is jy die wenner van SARIE Voorbladgesig 2024? Of die vyfde SARIE Nuwe Gesig?
Dit is ’n kans in ’n leeftyd.
Hier is die afdelings per dekade – jy val in die dekade waarin jy gebore is. As jy bv. in 1982 gebore is, is jy in afdeling 4, die 1980’s-dekade:
. Afdeling 1: 1950’s Jy’s gebore 1949-1959
. Afdeling 2: 1960’s Jy’s gebore 1960-1969
. Afdeling 3: 1970’s Jy’s gebore 1970-1979
. Afdeling 4: 1980’s Jy’s gebore 1980-1989
. Afdeling 5: 1990’s Jy’s gebore 1990-1999
. Afdeling 6: 2000’s Jy’s gebore 2000-2005
. Afdeling 7: 2000’s Jy’s gebore 2006-2008 – Die afdeling is die SARIE Nuwe Gesigwedstryd, spesiaal vir hoërskoolleerders van gr. 10 tot 12.
Daar word vyf finaliste in elk van die sewe afdelings aangekondig, dus 35 finaliste altesaam.
Dié 35 finaliste word in Sarie se Mei/Junie uitgawe aangekondig.
Daarna word een finalis per afdeling gekies wat in ware voorbladstyl in die Julie/Augustus-uitgawe van Sarie verskyn.
Afdeling 7 se finalis is die SARIE Nuwe Gesig-wenner, wat op Sarie.com en Netwerk24 aangekondig word.
Sarie se Voorbladgesig-wenner 2024 verskyn op die voorblad van die September/Oktober-uitgawe, en die Nuwe Gesig-wenner verskyn op die voorblad van haar ’n kleiner weergawe van Sarie.
Vanjaar geskied inskrywings slegs op sosiale media en nie op ’n webwerf nie.
Skryf in op Facebook of Instagram.
Inskrywings sluit op 31 Maart om 23:59.
. Vir meer inligting en ’n stel volledige reëls, besoek Sarie.com




