Van links is Charles Smook (Manzi Water, Paarl), dr. Roelof Botha (gasspreker), dr. Elna von Schlicht (die burgemeester van die Kaapse Wynland-distrik) en Dirk Breytenbach (voorsitter van Drakenstein Sakekamer).Foto: Anida van Rhyn


Die Paarlse tak van Manzi Water spesialiseer in ’n wye reeks drankies en bekostigbare, omgewingsvriendelike drinkwater en is die afgelope Vrydag as Drakenstein Sakekamer se onderneming van die jaar aangewys.

Die glansgeleentheid het by die immergewilde Lemoenkloof-boetiekhotel in die Paarl plaasgevind.

Ander ondernemings en plaaslike gemeenskapsleiers is tydens die geleentheid ook vir hul bydrae tot die sakewêreld vereer.

Volgens Dirk Breytenbach, Drakenstein Sakekamer se voorsitter, is die Onderneming van die Jaar-kompetisie begin om talent in die sakegemeenskap ten toon stel.

Die sakekamer het die kompetisie verlede jaar die eerste keer van stapel gestuur.

Breytenbach sê die doel is om lede op te bou en groei en ondernemings aan te spoor.

“Met groei gaan werkskepping gepaard en dit is vir ons as Drakenstein Sakekamer baie belangrik. Ons het sakeondernemings wat werklik puik presteer en hierdie is ’n geleentheid waar die sakekamer erkenning aan hierdie prestasies gee vir hul bydrae tot die groter sakegemeenskap.”

Hy sê die werk van organisasies soos die Drakenstein-plaaswag, wat ook met ’n merietetoekenning vereer is, sluit aan by die sakekamer se mandaat om ’n rol in sosiale verantwoordelikheid in die gemeenskap te vervul.

“Daan [van Leeuwen Boomkamp] en sy span doen uitstekende werk – veral in gebiede soos Paarl-Oos.

“Nie net lewer hulle gratis branddienste in hierdie gebiede nie, maar is ook betrokke by verskeie liefdadigheidsprojekte daar, en daarvoor is hulle vereer.

“Hoewel Drakenstein Sakekamer self nie ’n liefdadigheidsorganisasie is nie, fasiliteer ons dikwels liefdadigheidsprojekte weens ons wye netwerk.”

Breytenbach sê dr. Roelof Botha, ’n ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, was die gepaste gasspreker vir die geleentheid.

“Vir plaaslike praatjies sal ons gewoonlik iemand uit die omgewing kry om ons lede toe spreek, maar omdat hierdie ’n spesiale aangeleentheid was, het ons op dr. Botha besluit omdat hy ’n kenner op ekonomiese gebied is.”

Botha is die seun van wyle Pik Botha, ’n voormalige minister van buitelandse sake.

Botha se nagraadse kwalifikasies sluit in honneurs- en meestersgrade in ekonomie aan die Universiteit van Pretoria en ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg.

Die volgende mense is vir hul uitnemende diens tot die gemeenskap geïdentifiseer en paslik met meriete-sertifikate vereer:

. Munisipale amptenaar van die jaar – Timotheüs Cloete, Drakenstein-munisipaliteit;

. Gemeenskapsveiligheid-instansie van die jaar – Jacobus Marais, Fidelity ADT;

. Gasvryheidsinstelling van die jaar – Perdeberg Wyne;

. Jong entrepreneur van die jaar – Jeremy Arries, Silver Solutions;

. Opkomende welsynsorganisasie van die jaar – Garini de Wet, Certified Bang;

. Gemeenskapsbouer van die jaar – Daan van Leeuwen Boomkamp, . Drakenstein-plaaswag; en

. Sakekamer Bemarker van die Jaar – Francis Nieuwoudt, Drakenstein Sakekamer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article