Na aanleiding van verlede week se berig in Paarl Post oor die kommer i.v.m. die agteruitgang van die plaaslike toerismebedryf, is dit nodig om die sakekamer se posisie oor die onderwerp met plaaslike rolspelers te deel.
Toerisme is ingesluit by ons internasionale sakekamers se portefeuljes om hul stede as bestemmings vir sakelui te bevorder. Drakenstein Sakekamer ondersteun sulke strukture. Ons sal dit ook aktief in bedryf stel om te verseker dat ons alle aspekte van besigheidsbehoeftes van ons lede aanspreek, asook op hoogte van die jongste tendense in ons bedryf bly.
Die sakekamer is van mening dat ons beplande bevordering van plaaslike toerisme deel van die bedryf van ons oorhoofse sakenetwerk-aktiwiteite is. Dit werk hand in hand met die munisipaliteit se beleid om alle aspekte van die bemarking en skepping van die nodige infrastruktuur vir Drakenstein as ’n sakebestemming te bevorder.
Soos uit die artikel na vore kom, word sport mildelik deur ons munisipaliteit ondersteun en tesame met die plaaslike wynbedryf wat goed gevestig is, vorm dit reeds ’n basis vir ’n diverse aanbieding van verskeie opsies in ons plaaslike toerisme-pakket.
Ons is verder ook sterk van mening dat die munisipaliteit hulle nie op die gebied van kommersiële bedrywighede moet begewe nie, maar op die verskaffing van munisipale dienste en infrastruktuur waarin hulle reeds goed onderleg is en uitstekend presteer.
Ons plaaslike wynroete word effektief bestuur en afgesien van die voortydige uitfasering van die DLTA as ’n oorhoofse toerisme-organisasie, besit Drakenstein reeds ’n formidabele versameling van toerisme-ondernemings wat baat kan vind by ’n formele, goed georganiseerde plaaslike toerisme-organisasie, wat op ’n kommersiële basis bedryf kan word.
Die sakekamer het reeds ’n toerisme-portefeulje geskep om in die nabye toekoms nuwe toetreders in die bedryf te bemagtig deur te help met opleiding, beplanning en oprigting van nuwe kleinsake in die bedryf en ook om te verseker dat ons belyn is met die Wes-Kaapse asook plaaslike regering se inisiatiewe om kundigheid in toerisme te help vestig. Die AHI Wes-Kaap sal ook ’n beduidende rol speel om die nodige sakeopleiding te verskaf vir bemagtiging van nuwe toetreders.
Die sakekamer het reeds sy hand by die munisipaliteit opgesteek om sinergie tussen al die rolspelers se pogings te help bewerkstellig en ons sal binnekort die bestuurder van ons toerisme-portefeulje vir die beplande aksies aanwys.
Ons fokus word gerig op toerisme-operateurs en hul operasionele vermoëns, nie oorhoofse akademiese avonture wat neerkom op tydmors en verspilling van geleenthede nie.
. Dirk Breytenbach is die voorsitter van die Drakenstein Sakekamer.
,





