Dirk Breytenbach.

Credit: SYSTEM

Teen meer as R24 per liter is brandstofpryse weer eens op ’n rekordvlak. Dit was nie onverwags nie en die einde van die verhogings is nog nie in sig nie.

Twee faktore beïnvloed die prys van brandstof, wat eksterne en interne faktore insluit. Eksterne faktore is die rand/dollar-wisselkoers in terme van die pryse waarteen ons ru-olie aankoop en waaroor Suid-Afrikaanse verbruikers min of geen beheer het nie. Die oorlog in Oekraïne het tot dusver ook ’n verwoestende uitwerking op energiepryse en wisselkoerse wêreldwyd gehad.

Interne faktore sluit in die voortdurende prysstygings van ru-olie weens die vraag en aanbod, vervoerkoste en belasting asook heffings wat die regering as inkomstebronne benut.

Die minister van energiesake het weer eens die brandstofheffing van R1,50 per liter tydelik opgehef om die verhogings te verlig, maar dis ’n beduidende inkomstebron vir die staat en sal op ander maniere aangevul moet word sou die opheffing van ’n meer permanente aard word. Verbruikers op alle vlakke word geraak en hulpbehoewendes sal op verskeie maniere ondersteun moet word om hongersnood te voorkom.

As die wêreldekonomie sou aanhou om onstuimig te wees, soos nou, en die ekonomiese resessie (wat deur die Covid-19-pandemie teweeggebring is, duur voort, kan verbruikers verwag om in die medium termyn nog meer vir hul energiebehoeftes op te dok.

Plaaslike ekonome is dit eens dat ons nog geensins ’n draaipunt in die situasie bereik het nie en dat drastiese persoonlike maatreëls, soos streng beheer oor alle persoonlike inkomste en uitgawes in ons begrotings, die enigste voorgestelde oplossing blyk te wees, m.a.w. – bespaar waar jy kan. Dit kan die ekonomie verder striem, maar verbruikers het geen ander keuse nie.

Die brandstofprysverhogings is glad nie goeie nuus nie, maar die regering, sakeondernemings en eindverbruikers sal saam vernuwend moet begin dink om hierdie ernstige risiko só te bestuur dat energiepryse nie rampspoedig sal eindig nie. Wat ons wel in hierdie geval rustig stem, is dat die regering reeds deeglik bewus is van die uitdagings en reeds maatreëls begin instel het om dit vir verbruikers effens makliker te maak om te hanteer.

Suid-Afrikaners is veerkragtig en ons is nie alleen in die situasie nie. Vorige wêreld- ekonomiese rampe, soos die finansiële gevolge van die Covid-19-pandemie asook die 2007-’08- wêreldwye ekonomiese krisis, is suksesvol bestuur, en ons kan dit weer doen! . Dirk Breytenbach is voorsitter van die Drakenstein-sakekamer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article