ESS-JEE Rautenbach is amptelik by die Drakenstein-sakekamer aangestel om die portefeulje wat op hul jeug (18-36 jaar) gaan fokus, te bedryf.

Dirk Breytenbach, voorsitter van die Drakenstein-sakekamer, het gesê hulle het bevind dat nie genoegsame aandag midde die daaglikse uitdagings van die ekonomie aan die sakekamer se jeugdige lede gegee word nie en dié geleentheid word onbenut gelaat om voornemende of bestaande kleinsake-eienaars met kennis te bemagtig en ervaring vir sukses vorentoe te deel.

“Daarom bestaan die behoefte nie net vir praktiese opleiding nie, maar ook dat ervare sakemanne die jeug oor die verkryging van kennis kan mentor.

“Ons uitgangspunt sal geskoei word op die beginsel dat ’n gesonde balans tussen liggaam, siel en gees gehandhaaf moet word vir ’n individu wat hom of haar op die terrein van sakeleierskap en entrepreneurskap wil begewe.

“Dit geld natuurlik ook vir almal in die res van die samelewing.”

ESS-JEE is reeds ’n lewensafrigter in bedryf en die sakekamer se bestuursraad sien daarna uit om hom by te staan om ’n sukses hiervan te maak.

Die AHI se geakkrediteerde kortkursusse sal ook vir die program ingespan word ten einde die mees doeltreffende afronding van die sakekamer se jonger lede te bewerkstellig sodat hulle ook deel van die positiewe statistieke sal wees – en nie andersom nie – wat nuwe toetreders tot die omvattende sakewêreld in Suid-Afrika betref.

ESS-JEE kan met voorstelle en versoeke gekontak word by: essjee@fwlifecoaching.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article