Persepsies kan realiteit word!

Ons het op ’n onlangse leiersberaad van die Sakekamer, wat op 23 Maart in Franschhoek gehou is, opnuut besef ons moet waak teen foutiewe persepsies oor ons in die gemeenskap wat onbedoeld realiteit kan word.

Verantwoordelike burgerskap is in die Sakekamer se DNS en word geprogrammeer in pas met riglyne van die AHi om diens te lewer aan alle klein en mediumgrootte ondernemings in ons gemeenskap, sonder om te diskrimineer teen ras, geslag en politieke of godsdienstige oortuigings.

Die Sakekamer het sy ontstaan gedurende 1947 te danke aan die AHi, wat in 1942 opgerig is. Dit het voortgespruit uit die armblanke-vraagstuk van daardie tyd met Afrikaners wat ekonomies ontmagtig en uitsigloos gelaat is deur die ABO (Anglo-Boere-oorlog), Wêreldoorlog I en II en die Depressie van 1933. Die AHi het destyds groot suksesse behaal met bedrywe wat moontlik gemaak is deur die mobilisasie van die Afrikaner se geld vir die oprigting van Yskor, Sanlam, Volkskas (later ABSA) en Federale Volksbeleggings, wat maar enkele voorbeelde van die suksesse is wat behaal is. Die AHi se aksies het die Afrikaner weer op die wenpad gesit en voorspoed vir baie van die blanke bevolking verseker tot ongeveer die middel jare tagtig toe hul leiers begin besef het dat die nuwe era van demokratiese bevryding in SA aangebreek het en dat daar weer massiewe behoeftes bestaan vir die opheffing en ekonomiese ontwikkeling onder die breër bevolking. Die AHi en sy Sakekamers in die Wes-Kaap het die Rubicon in 1994 begin oorsteek en is doelgerig getransformeer om deel van die oplossing in die nuwe SA te word.

Gerekende akademici en prominente leiers uit die voorheen gemarginaliseerde gemeenskappe kon nou vorder tot leiersposisies in die AHi. Name soos dr. Ernst Messina, dr. Franklin Sonn en dr. Christo van der Rheede kon met trots hul regmatige rol as sakeleiers van die organisasie opneem.

Die AHi is in 2017 omvorm tot ’n NWM/NPC met ’n direksie en die nodige personeel en vrywilligers om die wa deur die drif te sleep, wat sal verseker dat die AHi en sy 61 affiliaat-sakekamers asook burgerlike organisasies wat ook ingeskakel is, op ’n deursigtige wyse bestuur word, wat aan die toepaslike wetlike voorskrifte voldoen.

Drakenstein Sakekamer is ook gedurende 2023 omvorm tot ’n NWM/NPC en bied ’n inklusiewe diens onder leiding van die AHi om alle sakeondernemings in die gemeenskap te bedien deur ons pogings om te verenig, inligting te deel en geadviseer te word oor uitdagings wat kan manifesteer in hul daaglikse handel en wandel. Besoek die AHi se webwerf by www.myahi.co.za en www.drakensteinsakekamer.co.za

Ons verwelkom alle klein en medium organisasies om in te skakel en deel te word van ’n verenigde groep wat ook informele ondernemings insluit. Verskeie inisiatiewe word gelei om mense in die gemeenskap te bemagtig om werk te vind wat die grootste ekonomiese vraagstuk, naamlik werkloosheid, wat mense uitsigloos laat, die hoof te bied. Vir meer inligting oor die Sakekamer se aktiwiteite in Drakenstein besoek gerus ons webwerf.

Ons visie is om suksesvolle netwerke te bou vir die hele gemeenskap en te help om SA weer op ’n wenpad te sit.. Dirk Breytenbach is die voorsitter van Drakenstein Sakekamer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article