Die internasionale wynkritikus en -kommentator Tim Atkin is positief oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf en sê dit “produseer die beste wyne in sy geskiedenis” ondanks die heersende ekonomiese en strukturele terugslae wat deur baie in die gesig gestaar word.
Atkin meen die redes is “beter wingerdbou en perseelkeuses, superieure virusvrye plantmateriaal en ’n wyer reeks kultivars”.
In sy 2023 South Africa Report, wat pas bekend gestel is, sê hy die land se witwyne tel “onder die beste op die planeet” en hy beweer “die Kaap het die Loire-vallei verbygesteek as die bron van die wêreld se beste droë chenin blancs”. Die land se rooiwyne “is nou op dieselfde vlak . . . as sy wêreldklas-wittes”.
Die enigste wyn wat volpunte in sy verslag kry, is ’n rooie, die Boschkloof Epilogue Syrah 2021, wat sy vertroue in Suid-Afrika se uitdrukking van hierdie rooi Rhône-kultivar beklemtoon.
Twee rooies het 99 punte aangeteken, naamlik die Le Riche Cabernet Sauvignon Reserve 2020 en die Porseleinberg Syrah 2021.
Hy skryf “suur eerder as suikervlakke is tans die fokus, ruggraat en rugmurg” van wat hy as die land se “nuwe-golf-rooies” beskryf.
Die hoogste telling van 99 punte vir ’n witwyn gaan aan die Alheit Vineyards Huilkrans 2022, ’n chenin blanc van enkel oorsprong.
Atkin vind Cap Classiques, met hul kenmerkende Suid-Afrikaanse profiel, is “al hoe meer indrukwekkend”.
Hy is ook optimisties oor die toenemende buitelandse belegging in die wynlande – nie net vir die kundigheid wat dit na die plaaslike wingerdbou en wynmaak bring nie, maar ook vir die bou van ’n wêreldwye handelsmerk.
Atkin neem kennis van die afname in die nasionale wingerde van sy hoogtepunt van net oor die 102 000 hektaar in 2006 tot die huidige 89 400 hektaar, maar wys ook op die toenemende diversiteit.
Sowat 110 wyndruifkultivars word tans verbou, met Suid-Afrika se wingerde wat “in die oudste wingerdboukundige grond in die wêreld groei”.
Hy beklemtoon die mate waartoe terroir toenemend Suid-Afrika se beste wyne definieer. Hy glo waar daar “meer en meer fokus op die beste areas vir individuele kultivars en wynstyle” is, kan die bedryf baat by “groter presisie” in afbakening.
Hy sê ook ’n groter amptelike aksent moet op sub-streke geplaas word. Dit kan die land se fokus op perseel-spesifieke en grond-spesifieke wyne versnel.
Hy loof die toenemende klem op grondgesondheid en herskeppende wingerdboukundige praktyke onder plaaslike verbouers. Dit word toenemend belangrik namate al meer opmerklike variasies in elke oesjaar plaasvind – die gevolg van klimaatsverandering met sy gepaardgaande lukrake weerpatrone en stygende temperature.
Die podium se presteerders sluit heelparty gereelde wenners van Alheit, Boplaas, Graham Beck, KWV, Lievland, Mullineux, Rall Wines en Sadie Family Wines in en verteenwoordig ’n gesonde mengsel van ou geslag en nuwe generasie.
Om die verslag met meer besonderhede te koop, besoek die webblad www.timatkin.com




