’n Plaaslike fietsryer, Daniyal Matthews, het die dag ná Kersfees verras toe hy ervare fietsryers laat les opsê en die 25-myl-fietsren by die 124ste Boxing Day-baanfietsrybyeenkoms in die Paarl gewen het.
Dit is tot dusver die grootste oorwinning van die 23-jarige Matthews se fietsry-loopbaan.
Hy is oor die eindstreep gevolg deur twee gesoute ryers, Thys Oosthuizen en Mario Nell.
Matthews was baie tevrede met sy oorwinning en sê hy was nie sy span, Enza, se eerste keuse om dié wedren te wen nie, maar het vroeg in die ren ’n een- rondte voorsprong gekry, wat die dinamika verander het.
“Ek moes toe die verantwoordelikheid op my skouers neem om die oorwinning te bewerkstellig.”
Matthews is in Kaapstad gebore en het aan Wynberg Boys’ High skoolgegaan, waarna hy sy BSc-graad in toegepaste wiskunde en statistiek deur Unisa gestudeer het.
Die jong fietsry-sensasie sê hy het van Kaapstad af na die Paarl hoofsaaklik as gevolg van die fietskapingsprobleem in Kaapstad verhuis.
“Ek is al voorheen deur twee bendes gejaag terwyl ek gery het, en dit is nie lekker om te alle tye op die uitkyk te moet wees terwyl ek elke dag ure lank oefen nie,” verduidelik Matthews.
“Afgesien van veiligheid, het die Paarl ’n heerlike ontspanne atmosfeer, meer respekvolle motorbestuurders en baie roetes en bergpasse, wat dit ideaal vir fietsry maak.”
Matthews is geen vreemdeling in die Boxing Day-fietsren nie. Hy het immers van kindsbeen af hier langs die baan gesit en kyk hoe sy pa, Abdul Davids, trap.
“Ek het dikwels langs die baan gesit en my pa dopgehou en mettertyd besluit ek wil ’n professionele fietsryer word.”
Die Franschhoeker Nolan Hoffman, ’n sewemalige kampioen by dié byeenkoms, het vroeg ’n rondte agtergeraak, maar het tot die einde bly veg. Jordan September het die 1-myl-uitnodigingswedren gewen en Matthew Lester het sy talent in die Kierin gewys. Graeme Ockhuis was tweede en Linwill Jansen derde.
Lester volg in die voetspore van sy oupa Jack en sy pa, Norman, wat albei Suid-Afrika in baanfietsry verteenwoordig het.
Wynand Hofmeyr het sy staal in die 10-km-puntewedren gewys toe hy Hoffman net-net geklop het.
Jamie Moses het derde geëindig.





