Die noodlot het Sondag in die Winelands-fietswedren in Wellington getref toe ’n deelnemer naby die eindstreep dood is.
Juan Gierz (40) van Kaapstad, ook ’n WP-liggaamsbouer, is dood nadat hy volgens inligting naby die eindstreep teen ’n stilstaande bakkie gebots het.
Hy is in ’n ernstige toestand hospitaal toe geneem, maar is later hier dood. Die fietsren het Sondag by die Laerskool Hugenote in Wellington begin en geëindig, met ’n roete wat na Riebeek Kasteel gelei het.
Meer as 1 000 fietsryers het in versengende hitte van byna 42 °C aan die ren deelgeneem. Die ren is om 12:00 afgelas weens temperatuur- en humiditeitstoestande wat ’n gevaarlik vlak bereik het. Fietsryers wat wou voortgaan, is aangesê om slegs die kort roete af te lê. Van die 1 300 fietsryers wat by Laerskool Hugenote weggespring het, het 1 093 fietsryers die eindstreep gehaal.
Kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Gierz het omstreeks 09:00 naby die eindstreep teen ’n stilstaande voertuig gebots.
“Hy is hospitaal toe geneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.”
Anne Kruger, woordvoerder van die Paarl-Rotariër-klub, die wedren-organiseerders, het by navraag gesê Gierz het probeer om ’n deelnemer te vermy wat voor hom ingeswaai het toe hy ’n bakkie wat in ’n systraat geparkeer was, getref het.
Kruger het bygevoeg ’n hele aantal deelnemers kon Sondag weens die uitermatige hitte en ontwatering nie die ren voltooi nie.
Die waterpunte was op plekke wat veilig is vir fietsryers en waar so ver as moontlik koelte verskaf kon word.
Voertuie met 1 000 liter-watertenks het rondbeweeg en al die beamptes het waterkanne in hul voertuie gehad.
Die organiseerders het hul meegevoel met die familie van die fietsryer uitgespreek.
. A participant in the ever popular local cycling challenge, the Paarl Rotary Winelands-cycle race, died shortly before crossing the finishing line when he hit a parked vehicle.




