Paarl-klubrugby is ná ’n onlangse ruskansie weer in volle swang.
Young Standards het Saterdag met sy 45-8-oorwinning die alleen-voorloper in die Paarlstreekkompetisie geword terwyl die wiele van Young Gardens in sy nederlaag van 20-26 teen Laer-Paarl afgekom het.
Standards geniet tans ’n voorsprong van vier punte oor Gardens en speel Saterdag teen die omgesukkelde Riverstones, wat die afgelope Saterdag die 2022-ligakampioen Paarl Rangers net-net met 31-30 geklop het.
Riverstones is tans in topvorm in sy feesjaar en pronk reeds met oorwinnings oor Gardens, Laer-Paarl en Paarl Rangers.
Standards sal alles in die stryd moet werp om Riverstones te klop en sodoende sy voorsprong in die liga te behou. Met drie ligawedstryde in die 2023-seisoen oor, kan die voorlopers nie bekostig om punte af te staan nie. Standards moet nog teen Riverstones, Simondium en Laer-Paarl speel, terwyl Gardens vir Simondium, Paarl Rangers en Riverstones moet aandurf.
In die tweedespan-liga-kompetisie is Young Standards se tweede span met sewe punte voor die span van Gardens en die 2022-ligabekerwenners sal alles in die stryd wil werp om hul titel suksesvol te kan verdedig.
Young Standards speel op 7 Oktober teen Paarl-klub in dié klub se 140ste feesjaar wat ’n geskiedkundige dag in die Paarl sal wees wanneer die twee oudste klubs in die Paarl teen mekaar kragte meet.
Standards, wat in 1891 in Tempelierstraat in die Bo-Dorp ontstaan het, sal die eerste keer teen Paarl-klub speel.
Spelers bo 40 jaar word weer versoek om vir oefening asook die uitgestelde feeswedstryd teen Retreat aan te meld.
Hiermee die naweekuitslae:
Young Gardens 20 – Laer Paarl 26
Young Standards 45 – Violets Paarl 8
Perel United 21 – Allandale 38
Rangers Paarl 30 – Riverstones 31
Naweekwedstryde:
Daljosafat B – Young Gardens vs Simondium
Daljosafat C – Riverstones vs Young Standards
Daljosafat D – Paarl Rangers vs Perel United.




