Paarl-rugbyklub kry regshulp ná Drakenstein hulle wéér by veld uitskop

Die Paarl-rugbyklub bou tans aan sy toekoms, al heers daar onsekerheid oor die toekoms van die klub se klubhuis.Foto:


“Paarl Rugbyklub is nie bankrot nie. Die klub is net nog een van die talle ondernemings wat weens Covid-19 struikelblokke getref het.”

So sê Paarl Rugbyklub se president, Paul Maritz, by navraag nadat hulle onlangs ’n aanmaningsbrief van die Drakenstein-munisipaliteit ontvang het dat die klub die klubhuis by die Parys-sportterrein teen 2 Januarie 2025 moet ontruim.

Maritz sê dit is nie die eerste keer dat hulle soortgelyke aanmanings van die munisipaliteit ontvang nie, wat die terrein oënskynlik vir ander ontwikkelingsdoeleindes wil gebruik.

Die klub – een van die oudstes in die land en wat in 1883 gestig is – sit sedert 2007 reeds met ’n onseker toekoms oor sy klubtuiste. Die klub is destyds reeds deur die munisipaliteit aangemaan om die klubhuis te ontruim om vir die Waterfront-ontwikkeling van die Parys-sportterrein plek te maak. Dit is egter gefnuik nadat die beoogde ontwikkeling hof toe gesleep en die ontwikkeling gestaak is.

Maar nou is dit weer sulke tyd.

Maritz sê die situasie is nie so maklik nie. Hoewel die grond waarop die rugbyklub se klubhuis gebou is, munisipale grond is, is die gebou en geriewe self deur die Paarl-rugbyklub gebou. Dit beteken die munisipaliteit sal die klub hiervoor moet vergoed om weer ’n klubhuis op te rig, asook om alternatiewe grond te voorsien.

Hieroor het die klub ’n prokureursbrief aan die Drakenstein-munisipaliteit gestuur, op soek na antwoorde oor hierdie aangeleentheid, maar tot nou is geen terugvoer hieroor ontvang nie.

Maritz sê die klub was voor covid besig om te herstel – “ook ná dalende spelergetalle en finansiële druk,” sê hy.

Ná covid het die klub hard daaraan gewerk om die spanne te herbou en goeie afrigters te verkry. Dit het vrugte afgewerp en in 2021 was die klub die wenner van die C-liga skild en is dus na die Super B-liga bevorder.

Maar weer het die geldelike las ingetree weens uitermatige betalings aan afrigting en spelers wat in een jaar meer as R900 000 uit die klub se geldlaai beteken het. Ook onmin tussen spelers oor betaling het beteken dat spelergetalle weer gedaal het.

Verdere probleme wat die klub ondervind het, is nadat die munisipaliteit die klub van sy tradisionele oefen- en speelveld, die Faurestraat-stadion, ontneem het. Die geriewe by Boy Louw is ook onvoldoende vir hul oefening en die kere wat hulle speeltyd by die rugbyvelde van die Daljosafat-stadion gekry het, is hulle slegs die verste en swakste veld aangebied.

“Ons werk nou hard om vir die 2025-seisoen te hergroepeer. Vanjaar het ons slegs vriendskaplike wedstryde gespeel en verder bou ons aan ’n span gretige rugbyspelers wat vir die liefde en pret van die spel wil deelneem.”

Maritz het verder gesê hulle is positief om Paarl Rugbyklub weer goed op die been te kry.. Die Drakenstein-munisipaliteit het nie op navrae oor die toekoms van die klubhuis of die Parysveld gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article