Die skielike afsterwe van prof. Wilbur Kraak die afgelope naweek het skokgolwe deur die sport- sowel as rugbygemeenskap gestuur.
Wilbur is die afgelope Saterdag (27 Julie) op die jong ouderdom van 40 in die hospitaal oorlede nadat hy die dag vantevore ’n beroerte tydens ’n lesing by die Universiteit Wes-Kaapland (UWK) se Bellville-kampus gekry het.
Volgens sy pa, Wilfred Kraak, het sy seun “oral sy merk gemaak,” veral in die rugbylandskap van die Wes-Kaap, asook as ’n professor van sportwetenskap, maar was dié eienskappe nie die enigste aspekte wat Wilbur spesiaal gemaak het nie.
Wilfred sê sy seun was “doelgerig” en het altyd nederig gebly, ongeag die hoogtes wat hy in sy professionele loopbaan bereik het.
Wilbur was sedert die einde van 2023 verbonde aan die UWK, waar hy ’n professor in sportwetenskap was, terwyl hy voorheen by die Universiteit Stellenbosch se departement van sportwetenskap betrokke was.
Hy was veral bekend in Wes-Kaapse rugbykringe waar hy verskeie plaaslike rugbyklubs afgerig het, onder andere by die Schotsche Kloof Walmers- en NTK-rugbyklub gebaseer in Kaapstad, St. George’s van die Strand, asook die Hamlets-rugbyklub van Mamre, wat ook Wilbur se grootworddorp is en waar sy nabye familie steeds woon.
Wilbur was ook ’n aanbieder op die Bôll & Ôll-rugby-kletsprogram wat sedert Mei vanjaar op eExtra sowel as eTV uitgesaai word en daarop fokus om die belangrikheid van gemeenskapsrugby uit te lig.
Volgens Wilfred het die “rugby-gogga” sy seun eers werklik in sy matriekjaar gebyt, waarna hy sportwetenskap by ’n kollege in Potchefstroom gestudeer en uiteindelik sy doktorsgraad by die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het.
Voor dié “rugby-openbaring” wou Wilbur onderwater-sweiswerk doen, het sy pa laggend vertel.
Gedurende sy studiejare was Wilbur nou betrokke by verskeie rugbyspanne, onder meer as die jongste top-skeidsregter van die Luiperds-rugbyunie, asook as afrigter van verskeie klubs gedien het.
In Potchefstroom het hy ook sy toekomstige vrou, Mirinthea Kraak, ontmoet.
’n Mentor vir leerders en studente
Met Wilbur se aankoms by die US was hy ook die Majuba-manskoshuis se jongste koshuishoof, en het dus, volgens sy pa, op talle platforms uitgeblink.
Wilbur was ook bekend vir sy rugbyklinieke wat hy saam met die voormalige Springbok-afrigter, Peter de Villiers, by skole aangebied het.
Volgens ’n verklaring wat die UWK uitgereik het, was Wilbur ’n talentvolle akademikus, hoë-prestasie-konsultant en rugbyontleder.
“Gedurende Wilbur se tyd by die UWK het hy ’n gewaardeerde personeellid en ’n mentor vir al ons studente geword. Hy het nie net goed saam met personeel en studente by die sport-, ontspannings- en oefenwetenskapsdepartement gewerk nie, maar was ook betrokke by een van sy passies om met sportspanne te werk en hulle op te hef,” volgens prof. Barry Andrews, ’n kollega by die UWK.
“Dit het hy as vrywilliger in sy vrye tyd by die UWK-sportadministrasie gedoen, waar hy gehelp het met rugby en ander hoë-prestasie-sportsoorte.
“Wilbur het ook uitgeblink in navorsing en die onderrig van sport, en slypskole in die fakulteit van gemeenskaps- en gesondheidswetenskappe, sowel as internasionaal,” het Andrews gesê.
Die UWK se rektor en visekanselier, prof. Tyrone Pretorius, het ook sy medelye betoon.
“Prof. Kraak was ’n passievolle, geesdriftige en gretige mens wat diep spore by sy studente en personeel gelaat het. Hy het talle met sy liefde, energie en teenwoordigheid verryk.”
Die departement van sportwetenskap by die US het op Facebook geskryf: “Ons [US se] gedagtes en gebede is by sy vrou en twee kinders in hierdie tyd van rou. [Wilbur] het ’n nalatenskap agtergelaat en ons gaan hom baie mis. Hy het elke student se hart by ons departement en by [die] UWK geraak.”
Volgens Wilfred het Wilbur se oupa hom geleer dat hy “ongeag wat hy in sy lewe bereik, moet onthou waar hy vandaan kom en nooit moet skaam wees vir wie sy ouers is nie”.
Hierdie sentiment het hy ook aan die jeug oorgedra en hulle aangemoedig om “nederig” te bly.
Hy laat sy vrou, Mirinthea, asook sy seun, Wilrique (14), en dogter, Zhea (3), agter.
- ‘n Gedenkdiens was Woensdag om 18:00 by die Mamre-laerskool gehou. Sy begrafnis sal Saterdag (3 Augustus) by die Mamre Morawiese kerk plaasvind.





