Betogers het Woensdag (gister) die strate ingevaar onderweg na Drakenstein-munisipaliteit se kantoorgebou in reaksie op ’n vurige geveg wat onder inwoners en munisipale magte oor onwettige besettings uitgebreek het.
Dit volg ook ná die dood van ’n 28-jarige man, wat nog nie uitgeken is nie, nadat skote Dinsdag 7 Februarie in Rooiland in Magnolia in Paarl-Oos geklap het.
Die man is raakgeskiet toe ’n beplande optrede deur die Drakenstein-munisipaliteit uitgevoer is om onwettige woonstrukture in die omgewing af te breek. Inwoners wat die operasie wou stopsit, het die wetstoepassers met klippe bestook.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, sê besonderhede rakende die voorval is nog nie bekend nie.
“ ’n Moorddossier is geopen en die dood van ’n 28-jarige man word ondersoek,” het Seekoei bevestig.
Die munisipaliteit het bevestig dat die polisie ’n amptelike en onafhanklike ondersoek van stapel gestuur het.
“Ons kan die publiek verseker dat ons die saak in ’n baie ernstige lig beskou en ten volle met die ondersoek-owerhede sal saamwerk.”
Die munisipaliteit sê hy het verlede week bloot opgetree toe dié gebied die teiken van onwettige grondbesetters geword het.
“Die Drakenstein-munisipaliteit het in reaksie op verskeie klagtes van die aangrensende gemeenskap vinnig opgetree. Ná twee pogings oor die naweek, wat deels suksesvol was, is ’n suksesvolle gesamentlike optrede [Dinsdag] uitgevoer om hierdie saak te hanteer.”
’n Private veiligheidsmaatskappy het die munisipale werkers asook die wetstoepassingsbeamptes vergesel, en die polisie het intussen bevestig dat die openbare-orde-polisiëringeenheid (Pops) later na die toneel ontbied is.
In ’n video van die toneel, wat op sosialemedia gedeel is, is ’n prentjie van anargie uitgebeeld met stootskrapers, woedende inwoners en wetstoepassers wat op die toneel koppe stamp.
Die munisipaliteit sê hy neem kennis van verskeie bewerings wat op sosiale media versprei word rakende die dood van ’n man tydens die onluste.
“Die munisipaliteit is geskok oor die nuus en betuig ons innige meegevoel met die betrokke familielede en vriende van die oorledene.
“Die Drakenstein-munisipaliteit kan egter bevestig toe ons wetstoepassers van die terrein af weg is, was daar geen aanduiding van enige wisselvallige interaksie tussen die verskillende rolspelers nie.”
Die DM waarborg dat wetstoepassers en veiligheidsvennote ’n bevel van minimalemagbenadering gevolg het.
Hierdie optrede volg nadat chaos Saterdagmiddag in die gebied uitgebreek het toe wetstoepassers en hul voertuie die teiken geword het van aanvalle en klipgooiery toe hulle ’n soortgelyke optrede daar wou uitvoer.





