‘n Werknemer by die kantoor van die Strauss-saal in Klein Drakenstein-weg, Paarl-Oos is Dinsdagoggend (8 Julie) deur twee rowers oorrompel.
Ds. Michael Wildeman, van die VGK Hugenote gemeente, het die insident bevestig. Die saal behoort aan dié kerk en is op dieselfde erf as die kerkgebou en pastorie.
“Die voorval het net na 08:00 gebeur die oggend. Ek was by die huis en toe hoor ek hoe iemand na my uitroep. Toe ek buite kom het die slagoffer op die grond gelê nadat munisipale werkers reeds tot haar hulp gekom het. Die twee persone het haar oorval en hardhandig met haar aangegaan.”
Wildeman het ook bevestig dat die twee verdagtes gepoog het om die slagoffer seksueel aan te rand en om die kantoor aan die brand te steek, maar het nie geslaag met hul bose intensies nie.
“Hier is ook niks geld of enigiets gesteel nie, want ons hou nie geld aan op die perseel nie.”
Die slagoffer kon daarin slaag om die paniekknoppie te druk en gewapende reaksie beamptes en die Paarl-Oos polisie was spoedig op die toneel.
“Sy is fisies ongedeerd, maar erg getraumatiseer. Ek doen ‘n beroep op die gemeenskap om saam te werk om mense soos hierdie misdadigers aan te gee by die polisie en hulle uit die samelewing te verwyder.”
Navrae is aan die Paarl-Oos polisie gestuur oor die insident waarop Kapt Basil Seekoei, woordvoerder vir die Paarl-Oos polisie, geantwoord het.
“Paarl-Oos-speurders ondersoek ‘n saak van sakeroof. Enigiemand met inligting kan AO Roger Dyson kontak by 082 469 1509, of die Misdaad Stop nommer by 08600 10111.”





