Die formidabele aktrise en sangeres Elzabé Zietsman sal binnekort op tuisbodem in Wellington te sien wees met haar eenvroustuk Routrip.
In Routrip pak Elzabé die emosionele langpad aan met dié stuk wat handel oor ’n vrou wat beplan om haarself om die lewe te bring.
Dis ’n teks deur Johann Slabbert, wat ’n ander blik op depressie bied en op een van sy beste vriende gegrond is.
Die stuk bevat ’n goeie skeut humor en karakters van oral, wat ’n mens in die samelewing herken.
Dit delf ook in die vele intriges van familie.
Elzabé vertolk die rol van Helena en die stuk weerspieël haar reis na waar sy nou is – in die dieptes van depressie.
Sy het ook vantevore probeer om haar eie lewe te beëindig en het vir drie weke in ’n psigiatriese kliniek beland.
Nadat sy ontslaan is, pak sy haar motor.
Helena is ’n opgaarder en op hierdie reis gaan sy alles wat sy van kindsbeen af versamel het, uitdeel onder die mense wat sy ken.
Slabbert se vriend, wat tot die teks aanleiding gegee het, het soos Helena in Routrip ook onthougoed versamel en wou nie meer leef nie.
Wanneer die gehoor met haar kennis maak, is Helena gestrand waar haar motor tussen Rietbron en De Rust onklaar geraak het.
Sy bel ’n instelling wat haar kan kom help, maar hulle gaan lank neem om daar uit te kom en boonop is daar nêrens skaduwee nie.
Sy het reeds ’n mislukte selfdoodpoging gehad en is vroeër in ’n psigiatriese kliniek opgeneem.
Nou is sy op ’n reis wat sy beplan haar laaste een sal wees. Sy wil by ’n paar plekke aandoen en ’n paar mense besoek en dan ’n einde aan alles maak.
Die stuk is verlede jaar onder meer op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch opgevoer en Zietsman is vir ’n Woordtrofee vir die beste prestasie in ’n solostuk benoem.
Die stuk sal op 2 Februarie by die Bôrdienghuis-teater in Wellington om 19:00 te sien wees. Kaartjies kos R180. Bespreek by 061 156 5386.
Die deure open om 17:00. Kom vroeg en geniet ’n drankie in die kroeg en koop ’n heerlike klei-oond-gebakte pizza.
. 20 Januarie is die fenomenale musikant Albert Frost, wat veral bekend is vir sy kitaar-talent in rock, bluesen soul, op die verhoog by die Bôrdienghuis. Kaartjies kos R150 per persoon. Deure open om 17:00 en die konsert begin om 19:00.
.
RAAF sal die gehoor op 9 Februarie by die Bôrdienghuis vermaak. Hierdie man-en-vrou-duo se genre kan nie beperk word tot ’n enkele woord nie. Hul lirieke vertel stories van ons diepste menswees en hulle musikaliteit en energie het gehore dié musiekervaring as lewensveranderend laat beskryf.
RAAF lui 2024 met hul jaarlikse somertoer in. Met hul verhoog vol instrumente en ’n skatkis vol stories beloof dit om ’n konsert te wees wat jy nie wil misloop nie.
Kaartjies kos R150 per persoon. Die deure open om 17:00 en die konsert begin om 19:00.


