Roses United se Damian Engeldoe gaan druk onder die pale. Damian het as plaasvervangerlosskakel opgekom en is as Speler van die Wedstryd aangewys. Foto: Maurisha Poceiro Santos


’n Moeilike dag het Saterdag (11 November) vir Roses United op ’n mislukte noot geëindig toe hy ’n nederlaag van 25-28 teen Saldanha in sy Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd in Saldanhabaai gely het.

Die enigste positiewe wat die span van Wellington uit hierdie kragmeting kan haal, is dat hy ’n bonuspunt verdien het, al het hy genoeg geleenthede gehad het om te wen.

Maar dis nie lekker om te sien hoe jou span homself in die voet skiet nie, soos Roses Saterdag gemaak het. Boonop het die skeidsregter die Roses-span met drie geelkaarte gestraf, wat die span duur te staan gekom het.

Met die aanbreek van rustyd het die tuisspan reeds drie drieë gaan druk en welverdiend met 15-6 voorgeloop.

Roses het egter teruggeslaan toe sy heelagter, Adrian Jacobs, gaan afrond het om die telling na 11-15 te laat krimp. Die manne van die Weskus het ’n verdere twee drieë gaan druk, wat hom ’n voorsprong van 25-11 besorg het.

Saldanha het vyf onverdoelde drieë gedruk, maar die plaasvervanger Brent Manuel se 50-meter-strafdoel was die verskil tussen wen en verloor vir sy span.

Met 25 minute speeltyd oor het ’n rooikaart, wat die einde van Saldanha se linkervleuel, Mikyle Hanse, se wedstryd beteken het, Roses terug in die wedstryd gebring. ’n Goeie terugvegpoging van die Wellingtonners het dié span twee verdoelde drieë besorg, maar dit was tevergeefs vir Roses.

Dis nie onderhandelbaar nie – Roses moet Saterdag (18 November) die span van Darling (in Darling) met ’n bonuspunt-sege troef, en hoop dat Saldanha in Hawston vasval en sonder ’n bonuspunt-sege terugkeer na die Weskus om te kwalifiseer vir die toernooi se uitspeelwedstryde op die Boland-stadion.Puntemakers:

  • Adrian Jacobs, Tasswin Lewis, Damian Engeldoe. Doelskop: Heinrich Isaacs (2). Strafdoel: Ryan Julies (2).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article