Roses se staatmaker, Bertrim Geswind, was onstuitbaar teen Hawston.Foto: Reginald Afrikaner

Credit: SYSTEM

Karakter en veggees het Saterdag (4 November) aan Wellington Roses United ’n soete 29-21-bonuspunt- oorwinning oor die span van Hawston in ’n Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd op Pelikaanpark, Wellington, besorg.

Ná verlede week se naelskraapse nederlaag was daar ’n rits beserings in die Roses-kamp en die span se afrigter, Michael Abrahams, was genoop om jong spelers ’n geleentheid te gee.

Vir Abrahams en sy afrigtingspan was dit ’n goeie sege nadat hulle wyd en syd oor hul spankeuse bevraagteken is.

Die span van Wellington was van die begin af in beheer en het hul ondersteuners met uithalerspel vermaak. Krediet moet gegee word aan al 23 spelers van Roses, maar veral die voorspelers, wat die grondslag gelê het deur in die skrums te oorheers.

Ryan Julies het eerste punte aangeteken vir die tuisspan in die vorm van ’n strafskop. Vyf minute later het Hawston met 7-3 die voortou geneem met ’n verdoelde drie deur sy kaptein, Brandon Hunter.

Die span van Hawston se voorry is net voor rustyd met ’n geelkaart vir tien minute gestraf. Roses het aanval op aanval van stapel gestuur, met die skrumskakel, Elton Fortuin, wat regs langs die pale vir sy span se eerste drie oorgeduik het, wat deur Julies verdoel is. Die tuisspan was vreesaanjaend op die verdediging en aanval.

Die slot Oshwin Mentoor, een van die senior spelers in die Roses-span, het die Wellingtonners se tweede drie opgelewer, wat weer deur Julies verdoel is. Toe rustyd aanbreek, het Roses welverdiend met 17-7 voorgeloop.

Swak verdediging deur Roses het Hawston egter in staat gestel om terug in die wedstryd te kom, maar die manne van die Roos het egter van rat verwissel deur nog twee drieë in te ryg. James Anele, wat ’n geleentheid as die nommersesflank gekry het, het geskitter op die aanval en sterk verdedig, waarna hy as speler van die wedstryd aangewys is. Die kaptein, Elshaun Davids, het sy Roses-span goed gelei en was ook ’n handvol vir die besoekers.

Ander spelers wat die oog getref het, was Adrian Adriaanse, Bertrim Geswind en Jason Fortuin. Agterlangs was die binnesenter Diago Julies gevaarlik en hy het ook goed saam met Jayden Fransman, wat die bonuspuntdrie gaan druk het, gekombineer. . Roses United reis Saterdag (11 November) na Saldanhabaai vir hul tweede laaste wedstryd in Groep A van die Sanlam-Boland-Top-12.

Puntemakers:

Roses (29): Drieë: Elton Fortuin, OshwinMentoor, Bertrim Geswin, Jayden Fransman. Doelskop: Ryan Julies (3). Strafdoel: Ryan Julies

Nog rugby-uitslae:

Groot Uitdaag (Top-12)

Bella Vista 56, Mamre 24; Saldanha 97, Eagles 19; Wesbank 53, Delicious (Noordweste) 19; Safcol 29, Young Hamiltons 10; Roses United 29, Hawston 21; Robertson 30, Darling 24.

Streekuitdaag (Top-14)

Touwpark 29, Villiersdorp 28; Rawsonville 19, Ceres 15; Red Stars 28, Young Eagles 0; Tulbagh 71, Flying Eagles 8; Steenberg Cove 41, Villagers Newtons 29; Universals Stanford 47, Young Good Hopes 25.

Gemeenskapskild (Top-16)

Goudini 28, Universals Taalfontein 23; Porseleinberg 30, Villagers Citrusdal 25; Evergreens Ashton 33, Môrester 23; Howbill 15, Soetendal 15; Green Leaves 29, Mountain Eagles 19; Elim 42, La Chasseur 24; Barrydale Stryders 29, Golden Eagles 18; Spring Roses 88, Young Lions 0.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article