’n Besige middag in Lady Grey-straat, wat deel vorm van die Paarlse middedorp.Foto: Jana Scheepers

Credit: SYSTEM

Die Paarlse middedorp loop al vir ’n geruime tyd onder geweldige gewapende rooftogte en diefstal deur, met winkels in veral Lady Grey-straat wat kort-kort beroof word.

Oor die afgelope twee maande is winkels in Lady Grey-straat al meer as sewe keer geteiken, insluitend Russel’s, Pep Home, Sportscene en Full House Furnitures asook ’n buitelandse winkel oorkant Standard Bank.

Volgens 2023’-24 se eerste kwartaallikse misdaadstatistieke staan ??die Paarl in die 18de plek landswyd en die vierde plek provinsiaal in die winkeldiefstalafdeling, soos Paarl Post op 25 Augustus berig het.

Hoewel die Paarl-polisiekantoor buiten die middedorp ook Suider- en Noorder-Paarl bedien, het uitsluitlik die middedorp ’n toename in voorvalle van gewapende roof ervaar, volgens Leon Bester, voorsitter van die Paarl se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

Volgens kapt. Louise du Plessis van die Paarl-polisie word ondernemings in die middedorp weens ’n gebrek aan veiligheidsmaatreëls en veiligheidskameras geteiken.

Dit is ook bekend gemaak ’n groep van tussen vyf en sewe mans word van hierdie rooftogte verdink. Twee van hulle is reeds in hegtenis geneem.

“In baie van die gevalle het die verdagtes die perseel voor die rooftogte besoek,” het Du Plessis gesê.

Volgens Bester neem dié soort misdaad by sakepersele reeds sedert Augustus toe, en is dit vanjaar in vergelyking met vorige jare buitengewoon hoog.

Bester is van mening dat die onlangse toename in misdaad plaasvind weens die landwye vrylating van sowat 24 000 gevangenes wat steel om aan die lewe te bly.

Volgens hom kan dié vrylatings tot ’n groot mate vir die rooftogte blameer word, veral omdat die vrylatings en gewapende rooftogte se tydslyne saamval.

Hierdie soort rooftogte word gewoonlik vooraf beplan en is selde opportunisties, het Bester gesê.

Die voorkoming van sulke soort diefstal berus “ongelukkig” grotendeels by die winkeleienaars, volgens Bester.

Buiten kamera’s wat binne én buite winkels aangebring moet word, raai hy eienaars ook aan om gebruik te maak van ’n private veiligheidsmaatskappy wat die omgewing rondom die winkel sal patrolleer en bewustheid sal skep, waarna kwaaddoeners elders sal gaan.

“Kameras sal definitief help, maar dit is nie al wat gedoen moet word nie.”

Volgens Bester kan kwaaddoeners die ondernemings dophou en hulle sal dan presies weet wanneer werknemers oopsluit, op middagete gaan of toesluit – en dit is dan wanneer hulle toeslaan.

’n Private veiligheidsmaatskappy skep egter ’n verrassingselement weens roetines wat nooit dieselfde is nie en boewe op heterdaad kan betrap.

Bester het ook verduidelik dat die Drakenstein-munisipaliteit stel ’n aantal wetstoepassers vry, wat die middedorp gereeld patrolleer. Hy sê egter dié patrollie-lede beskik nie oor genoeg kennis van misdaadvoorkoming nie en kwaaddoeners leer hul roetine baie vinnig ken.

Volgens Bester is die Paarlse GPF sowel as die Paarl-polisie bewus van die toename in gewapende rooftogte in die middedorp.

’n Inligtingsessie is reeds in Oktober met die GPF en die polisiekantoor gehou.

Dié twee entiteite is ingelig oor gemeenskapsveiligheid en hoe om misdaad beter te bekamp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article