Voortdurende klagtes oor onwettige rommelstrooiery is byna weekliks op die radar van Paarl Post, waarvan die mees onlangse klagte oor die rommelbedekte velde naby die Paarl-Oos-biblioteek is.
Die klagte is verlede week op die Concerned Drakenstein Residents-groep op Facebook aangemeld, met ’n inskrywing wat lui: “So lyk dit op die land [terrein] by die biblioteek. Wie kan dit nou hou?”
Die Drakenstein-munisipaliteit sê hy weet nie van ’n klagte oor die rommel by die biblioteek nie.
Die munisipaliteit se terugvoer oor onwettige rommelstrooiery beklemtoon gereeld dat dit mense is wat onwettig rommel stort, en nie die munisipaliteit nie.
Drakenstein se direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, het in sy nuutste terugvoering dieselfde kwessie beklemtoon. “Ons wil graag ons gemeenskappe aanmoedig om eienaarskap en verantwoordelikheid van hul omgewing te neem. Ons boodskap is: Wees deel van die oplossing; nie deel van die probleem nie.”
Die gesprek oor onwettige rommelstrooi het toe geraak aan ’n skoonmaak-kultuur wat die afgelope 14 jaar wetlik aan landsburgers in Rwanda voorgeskryf word.
Dit kan omskryf word as ’n openbare kultuur wat daarop geskoei is om alle landsburgers by die voorkoms van hul gemeenskap te betrek.
Dié vakansiedae, wat gewoonlik die laaste Saterdag van elke maand gehou word, fokus daarop dat skoonmaakwerk en opknappings saam as ’n gemeenskap uitgevoer word.
Dit staan beter bekend as Umuganda.
Volgens Wikipedia word Umuganda as ’n openbare vakansiedag bestempel met die doel dat inwoners verpligte gemeenskapswerk soggens van 08:00 tot 11:00 uitvoer.
“Deelname op dié dae word deur die wet vereis en versuime om deel te neem kan ’n boete tot gevolg hê. Die program is mees onlangs in 2009 hervestig en het gelei tot ’n merkbare verbetering in die netheid van Rwanda,” aldus Wikipedia.
Umuganda beteken “saamkom onder ’n gemeenskaplike doel” in Kinyarwanda, die amptelike taal van Rwanda.
Met toenemende tendense van onwettige rommelstrooiery in die Drakenstein-gebied blyk só ’n openbare motiveringsveldtog ’n goeie potensiële impak op ontwikkelende gemeenskappe te hê.
Maar Esau glo dat só ’n inisiatief onder die beginsel van ubuntu in Suid-Afrika krag sal dra.
“Die Drakenstein-munisipaliteit ondersteun gereeld versoeke van die publiek wat hul omgewing vrywillig wil skoonmaak sowel as hul inisiatiewe waarin lede van die publiek dienooreenkomstig bygestaan word.”
Esau verwys na talle skoonmaak-inisiatiewe soos deur die Drakenstein-gemeenskap van stapel gestuur, wat deur die munisipaliteit ondersteun word. Dit sluit in die beroemde Siyabonga Stengana en Bulelani Ndzuzo van Mbekweni se “Keep Mbekweni Clean”-inisiatief, sowel as Marshall Hendricks se onlangse skoonmaak-operasie saam met die jeug van Wyk 10 in Wellington.
“Geen spesifieke datum is op die oomblik vasgestel vir die volgende openbare skoonmaakinisiatief nie, maar hou gerus hierdie ruimte dop.”
Esau wys wel daarop dat die implementering van ’n openbare skoonmaak-kultuur ’n landwye verandering in die kultuur van inwoners vereis, en nie slegs in die Drakenstein of die Wes-Kaap nie.
“ ’n Daadwerklike ommeswaai van die weggooi-kultuur na ’n hergebruik- of verfraaiingskultuur is noodsaaklik om hierdie doelwit te bereik. Dit beteken ook dat die beginsel van ubuntu in die omgewingsgesondheidsruimte van toepassing moet wees.
“Ons elkeen het ’n rol om te vervul ten einde ’n skoner
omgewing te skep. Ongelukkig speel sosio-ekonomiese faktore ook ’n groot rol in
mense se optrede en hul siening van vullis en die rol wat munisipaliteite
speel.”
Esau is egter oortuig sodanige projekte kan lewensvatbaar
wees, en is volgens hom reeds die geval in sekere gebiede.
“Soos in Mbekweni, waar gebiede wat voorheen as onwettige
stortingsbrandpunte bestempel is, nou deur die omliggende gemeenskap in samewerking
met die munisipaliteit verfraai word. Baie minder onwettige storting vind nou
daar plaas.”
Om skoonmaakaksies volhoubaar te maak, glo hy die geheim is
om klein te begin, soos die munisipaliteit se leuse “Transforming one community
at a time”.
Tog verseker die munisipaliteit dat hy ernstige aandag aan
die bekamping van onwettige rommelstrooi en vullisstortings skenk.
“Geraakte gebiede word so ver as moontlik weekliks deur die
munisipaliteit se afdeling vir vaste-afvalbestuur skoongemaak.”
Esau se motivering is dat die Drakenstein gereelde
skoonmaakaksies in samewerking met inwoners/vrywilligers, asook skoonmaakaksies
op versoek van sportklubs, studente en ander belanghebbendes beplan.
“Die gemeenskap word versoek om met die munisipaliteit saam
te werk deur oortredings van onwettige storting by die tolvrye nommer
080 131 3553 aan te meld. Elke inwoner is ook geregtig om een vrag vullis (tot
1 ton) gratis by die Paarl-oorlaaistasie of die Wellington-stortingsterrein te
stort.”
Verder word die gemeenskap versoek om hul omgewing skoon te
hou en selfs te verfraai.





