Vullishouers word die afgelope paar weke in Drakenstein soms tot ná sonsondergang opgelaai – nie omdat munisipale werkers so graag oortyd wil werk nie, maar as gevolg van ’n tekort aan werkende vullisvoertuie.

Paarl Post het verneem dat slegs vier werkende vullisvragmotors verlede week die hele Drakenstein moes bedien.

Verlede week Vrydag is Wyke 1, 4 en 22 in Paarl-Oos se vullis glad nie op die dag verwyder nie, maar het ’n boodskap op die Charleston Hill- en New Orleans-woonbuurte se WhatsApp-groepe die ronde gedoen om inwoners in kennis te stel dat hul vullis eers die Saterdagoggend verwyder sou word.

Die herwinningsakke in dié gebiede is glo ook nie opgelaai nie. Dit sal glo eers hierdie Vrydag gebeur.

In Paarl-Wes, Moutain View en New York is vullis so laat as 20:00 eers verwyder. “Verlede week is hier in Charleston Hill reeds ’n paar mense se dromme gesteel. Dié week het die dromme tot laataand buite gestaan, en as skelms nie skaam is om jou drom deur die dag voor jou deur te steel nie, wat gaan net nie in die aand gebeur nie? Plus, ek het self nie die SMS ontvang nie, maar my buurvrou het gesê sy het die kennisgewing op ’n WhatsApp-groep gesien,” vertel een van die inwoners.

Hierdie situasie is nie net ’n higiëne-gevaar nie, maar vir die maatskappy wat vullisdromme skoonmaak, is dit ook ’n geweldige probleem omdat hulle nie kan werk wanneer hulle moet nie en dan ná ure moet oop bly en hiervoor addisionele lone aan werkers betaal.

Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het die munisipaliteit ’n relatief nuwe vloot met 27 vullisverwyderingsvoertuie.

Volgens Esau is die bewering van slegs vier werkende vragmotors fopnuus, maar hy noem wel dat die munisipaliteit ’n “tydelike probleem ondervind met ’n defek wat ons op sommige van die trokke se hidrouliese hysers opgespoor het. Dié hysers lig die wieletjiedromme om hulle leeg te maak.”

Hy sê die fout was by die hyser en nie die voertuie self nie, maar sê nie hoeveel voertuie die probleem gehad het nie. Hy sê ook die vervaardigers van dié voertuie is ingelig.

Volgens Esau is die vragmotors gemiddeld tussen vyf en ses jaar oud. Dit is egter nie duidelik wanneer die munisipaliteit bewus geraak het van die “defek” nie. “Al 27 voertuie is diensbaar. Dit was ’n tydelike probleem en is nou opgelos. Ons wil graag beklemtoon hoewel die fout met die hidrouliese hyser tot tydelike vertragings gelei het, is alle inwoners se vullis wel verwyder en het die munisipaliteit sy dienste suksesvol gelewer. Ons het ook die betrokke inwoners, wat deur die vertragings geraak is, per SMS in kennis gestel.”

Esau sê om al die Drakenstein- woongebiede se wieletjiedromme te dek, het hulle daagliks nege vragmotors op die pad nodig. Hy het egter nie op navrae gereageer oor hoekom die munisipaliteit nie vir hulp van die private sektor gevra het nie en ook nie of die werkers oortyd betaal word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article