Die huidige vyf lede van The Rockets voor hul optrede Sondag by GrandWest.


Jerry Watt, die geliefde hoofkitaarspeler, stigterslid en leier van die alombekende groep The Rockets, is Donderdag 9 Februarie oorlede.

Wyle Watt het onlangs die nuus van sy kankerdiagnose met sy aanhangers gedeel. Die kanker was reeds toe al in ’n gevorderde stadium.

The Rockets het die hartseer nuus van Watt se afsterwe die aand van sy dood op hul Facebook-blad met aanhangers gedeel.

Die inskrywing lui as volg: “Jerry Watt, leier van The Rockets, man, pa, seun, broer en oupa, is vanaand oorlede omring deur familie. Hy het ’n dapper stryd tot die einde toe geveg. Sy nalatenskap sal vir ewig voortleef deur sy musiek. Ons gaan hom baie mis. Soos Jerry altyd gesê het, ‘Let the music play’, en The Rockets-afskeidskonserte sal voortgaan volgens sy wense.”

The Rockets het jaarliks toegesien dat Paarliete die jaar op ’n hoë noot begin met hul gewilde optredes wat in Januarie by die Afrikaanse Taalmonument gehou word.

Dié groep het ook onlangs aangekondig The Rockets se reis sal as gevolg van Watt se afsterwe tot ’n einde kom.

Die oorblywende lede van The Rockets sien egter steeds baie uit na hul optrede by die Amfiteater op Paarlberg op 11 Maart en wil dit ’n opwindende huldeblyk aan Watt maak.

Die groep het Sondag saam met Colin “Bones” Delight, Theo Watt, Jano van der Berg en Devanish Jeodhouse, asook Dr Victor, Rjay en LK, The Fantastics, The Young Visitors en Uncle Cal twee afskeidskonserte by Hanover Street, GrandWest Casino, gehou.

Manuel Losper, hoofsanger van The Rockets, het gesê hulle is opgewonde om weer in die Paarl op te tree, hoewel die optrede ’n bietjie hartseer sal wees, aangesien die Paarl een van Watt se gunstelingplekke was.

“Hy het altyd nostalgies gepraat oor die ou dae, toe die band gereeld by die Drakenstein-hotel opgetree het,” sê Losper.

“Hy was lief vir die Paarl en sy mense en wou altyd iets spesiaals vir hulle doen. Nou is dit aan ons as die oorblywende Rockets om Jerry se nalatenskap lewend te hou en op 11 Maart met iets spesiaals vorendag te kom.

“Jerry het altyd gesê ‘laat die musiek speel’ en ons sal uit ons vel speel vir die Rockets-aanhangers van die Paarl.”

. Young Gardens Rugbyklub vier sy 75ste bestaansjaar en die Back to our Roots-musiekfees op 11 Maart is een van die hoogtepunte op sy feesprogram vir die jaar.

Dit sal ook een van die laaste kanse wees dat aanhangers The Rockets onder hierdie naam sal kan sien optree.

Alistair Izobell, ook ’n voormalige Rockets-hoofsanger, The Richard Ceasar Band, die saxofoonspeler by uitstek Don Vino, asook plaaslike talent Loren Erasmus, Chelsea Vox, Carl Hendricks en RJay & LK sal ook optree en die Marco Mentoor Band sal die ondersteunende orkes wees.

Die hekke open om 13:00 en die musiek begin om 15:00. ’n Kroeg en kosstalletjies sal beskikbaar wees. Geen eie kos en drinkgoed word toegelaat nie.

Kaartjies kos R170 en is te koop by www.webtickets.co.za en Pick n Pay.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article