Knievervanging-chirurgie by die Medicinic Paarl is nou danksy ’n robot-bygestaande stelsel, genaamd die Rosa Knee System, uiters akkuraat en pasgemaak vir die individu.
Die voordeel is dat pasiënte vinniger kan herstel en gouer ’n funksionele, aktiewe leefstyl kan hervat.
“Ek glo die Rosa stel ons in staat om gehaltediens vir pasiënte te verbeter en so beter uitkomste te verseker,” sê dr. David North, ’n ortopediese chirurg by die Mediclinic Paarl.
North is tans die enigste gekwalifiseerde ortopeed by Mediclinic Paarl om hoogs akkurate prosedures met die Rosa Knee System uit te voer.
Sedert die Rosa-robotstelsel by die Mediclinic Paarl in gebruik geneem is, is drie gewrigvervanging-prosedures uitgevoer.
Die Rosa-stelsel se kombinasie van akkurate data en ’n robotarm, tesame met die vaardigheid en ervaring van die chirurg, verseker ’n meer akkurate prostese-inplanting in vergelyking met tradisionele metodes.
Die operasie word egter nie deur die robot self uitgevoer nie. Dit verskaf wel regstreekse data en beweeg soos die chirurg dit opdrag gee.
Die chirurg is steeds in beheer van die operasie en verantwoordelik vir die sukses van elke operasie.
“Met ’n knievervanging kan selfs een millimeter ’n merkwaardige verskil maak. Die Rosa Knee System verseker dat die montering van ’n nuwe prostese meer akkuraat vir elke pasiënt is,” verduidelik dr. North.
’n Algehele knievervanging is ’n baie algemene en doeltreffende behandeling vir pasiënte wat aan knie-artritis ly.
Die sukses van ’n individu se knievervanging is nou verwant aan die pas en werking van ’n nuwe knie-prostese.
Pasiënte sal met die hulp van die Rosa-robot ’n beter gehalte lewe kan geniet omdat die akkuraatheid min ruimte vir foute laat.
Die Rosa-stelsel voorsien gevorderde tegnologie wat voor en gedurende die operasie data versamel en analiseer, wat help met die beplanning en plasing van die knievervanging. Dit lig chirurge ook in van enige unieke besonderhede van ’n individu se knie, wat die operasie moontlik kan beïnvloed.
In Suid-Afrika het net ’n paar Mediclinic-hospitale toegang tot die Rosa-tegnologie.
Volgens dr. North is die voordele vir pasiënte legio en sluit dit pynverligting, ’n laer dosis pynmedikasie en ’n verbetering van die knie se algehele werking in. Dit word ook aan ’n korter hospitaalverblyf gekoppel.
Pasiënte wat hierdie operasie met ’n tegnologiese hupstoot verkies, hoef nie meer na ander hospitale te reis nie, maar kan dit nou plaaslik in Paarl kry.
Geen bykomende koste is verbonde wanneer die Rosa-robot in ’n knievervanging by Mediclinic Paarl gebruik word nie.





