Riverstones het Saterdag die kat behoorlik in die duiwe- hok gegooi met sy oorwinning oor die Paarl- streekligavoorlopers, die Young Standards.
Die puntestand van die voorlopers Young Standards en Young Gardens is ná ’n naelbyt-oorwinning van 14-8 gelyk met 57 elk. ’n Beter punteverskil van 52 gee Young Standards egter die binnebaan om Gardens se 75-feesjaar te bederf. Gardens het soos verwag maklik met Simondium klaargespeel en met 45-7 gewen, en speel Saterdag in sy voorlaaste wedstryd teen Paarl Rangers, wat Perel United met 59-7 afgeransel het. ’n Taai stryd word verwag. Saterdag speel Perel United teen Riverstones en nog ’n opdraandestryd lê vir Perel United voor. Laer Paarl speel teen Violets en sal sekerlik weer met die louere wegdraf.
In die tweedespan-ligakompetisie is Young Standards een wen weg van die tweedespan-liga-kompetisie en kan reeds Saterdag teen Simondium se tweedespan-titel suksesvol verdedig, terwyl Riverstones goed op pad is na die derdespan-ligakompetisie.
Die uitslae van die naweek was:
Riverstones 14 Young Standards 8
Young Gardens 45 Simondium 7
Paarl Rangers 59 Perel United 7
Die bepalings vir die week:
Young Standards vs Simondium – Daljosafat E
Paarl Rangers vs Young Gardens – Daljosafat C
Riverstones vs Perel United – Daljosafat B
Lower Paarl vs Violets – Daljosafat D.



