’n Tiener beïndruk toeskouers.Foto’s: Jana Scheepers


Nederburg Primêre Skool in die Paarl se tweede jaarlikse rieldansfees het die afgelope Saterdag (9 September) plaasgevind, en almal het (letterlik) gedans dat die stof staan.

Die fees het in 2022 tot stand gekom en het groot ondersteuning geniet met rieldansers en toeskouers wat net nie genoeg kon kry nie.

Vanjaar het rieldansers van so ver as Barrydale en Montagu deelgeneem, met die Laerskool Barrydale se dansgroep wat as die groepwenners weggestap het.

Só het André Kearns, Nederburg Primêr se adjunk-skoolhoof en ’n lid van die fees se organisatoriese komitee, aan die Paarl Post gesê.

Volgens Kearns het altesaam agt skoolgroepe (bestaande uit laerskool- en hoërskoolgroepe) deelgeneem.

“Ons het die fees gereël omdat daar groot belangstelling was, maar ook omdat dit [rieldans] deel is van ons [die skool se] kultuur,” het hy vertel.

Die kaartjieverkope, wat betaalbaar was by die hek, het ook as ’n geldinsameling vir Nederburg Primêr se rieldansgroep gedien om kostes soos vervoer, uitrustings en instrumente te help dek.

’n Deel van dié geld gaan ook na ander skole se rieldansgroepe wat finansiering benodig om aan kompetisies deel te neem.

Volgens Kearns het elke rieldanser die afgelope Saterdag as ’n wenner weggestap, met verskeie pryse wat oorhanding is.

Buiten die Laerskool Barrydale, wat as die groepwenners gekroon is, het ’n leerder van Nederburg die trofee vir die beste individuele danser gewen nadat al die dansers mekaar op die sandveld “uitge-battle” het, het Kearns verduidelik.

Volgens hom was vanjaar se fees ietwat kleiner as die vorige jaar weens finansiële uitdagings, en spesifiek die jongste styging in brandstofpryse.

Maar hierdie uitdagings sal die skool nie stuit nie, met rieldansliefhebbers wat hulle kan regmaak vir ’n gróót makietie.

Volgende jaar vier Nederburg Primêr sy sestigste bestaansjaar, en dit sal weereens ’n historiese San-, Nama- en Khoi-dansfees oplewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article