Die eerste Six Gun Grill Summer Sport Festival vind in Desember in die pragtige Bolandse dorp Wellington plaas, ’n dorp reeds bekend vir sy ryk sport- en kultuurerfenis.
Hierdie nuwe sportfees, wat van 6 tot 11 Desember by Hugenote Hoërskool aangebied sal word, beloof om ’n uitsonderlike afsluiting van die sportjaar vir sportliefhebbers en skole van reg oor Suid-Afrika te wees, met selfs internasionale mededingers wat verwag word.
Hierdie vyfdaagse geleentheid bied ’n unieke platform vir skolesportspelers om hul vaardighede te slyp en aan hul voorbereiding vir die nuwe sportseisoen te werk.
Vir skole wat reeds sedert Oktober voorberei vir die komende sportseisoen bied hierdie kompetisie ’n gulde geleentheid om wedstryde van gehalte tydens ’n goed georganiseerde kompetisie te ervaar.
In die verlede was skole genoodsaak om na die buiteland te reis vir hierdie soort blootstelling, wat gewoonlik ’n baie duur onderneming is.
Die Six Gun Grill Summer Sport Festival maak dit nou moontlik om dieselfde gehalte-kompetisie tuis te geniet – alles in die skilderagtige Boland.
Die fees bied ’n indrukwekkende verskeidenheid sportsoorte, waaronder rugby, netbal, hokkie, krieket, tennis, gholf en atletiek.
Sover het 46 skole reeds vir hierdie nuwe sportfees ingeskryf.
Benewens die sportkompetisies sluit die fees ook vermaak in vir diegene wat minder sportief is, of vir ’n rukkie wil ontspan.
Bok Radio werk saam met die sportfees om ’n Battle of the Bands-kompetisie aan te bied.
Dié musiekkompetisie sal van 6 tot 11 Desember plaasvind.
Inskrywings is oop vir sangers en groepe wat hul talente in die Boland wil tentoonstel.
Die finaliste sal ook ’n kans kry om saam met die Hoërskool Durbanville se blaasorkes op te tree.
Bands en sangers wat die topdrie haal, kry kontantpryse en die geleentheid om op Bok Radio gehoor te word.
Op die Sondagaand om 18:00 word ’n skemer-Kersdiens aangebied. Toegang is gratis, so neem vroegtydig jou plek in op die hoofpaviljoen by Hugenote Hoërskool se sportterrein. Bring liefs ’n bottel water en ’n kussing saam.
Die Hoërskool Durbanville se blaasorkes sal die Kersliedere tydens die skemer-Kersdiens lei, met die pragtige Bolandse berge in die agtergrond.
Sommige van die deelnemende spanne aan die sportfees sal by die Hoër Landbouskool Boland tuisgaan.
Intercape Busdienste sal die vervoer van hierdie spanne tussen die slaapplek en die feesterrein hanteer.
Die Six Gun Grill Summer Sport Festival is nie net ’n geleentheid om te kompeteer nie, maar ook om ons land se jong sporthelde te inspireer.
Die tema, “Tomorrow’s Heroes Today,” onderstreep die doel van hierdie fees – om jong sportlui ’n platform te gee waarop hulle kan groei om hul drome na te jaag.
Hierdie fees is ’n moet-sien vir enigeen wat lief is vir sport en die gemeenskap. Kom deel in die opwinding.
Die Boland, bekend vir sy warm somers en hartlike mense, is die perfekte agtergrond vir hierdie opwindende nuwe sportgeleentheid.
Kontak die feesbestuur per e-pos by events@summerfestival.co.za vir meer besonderhede en om plaaslike of ander produkte by die vyfdaagse fees uit te stal.





