Ek is nie ’n wetenskaplike nie, maar volgens my kennis behels die rehabilitasie van ’n rivier se ekosisteem intervensies om die omgewing en biodiversiteit rondom die rivier te rehabiliteer. Dit glo ek ook is wat die Duitse finansiering se doel was.
Tans is die groot besprekingspunt egter wandelpaaie, inwoners onder die Markstraat-brug, asook die rommel- afsetpunt onder die brug. Daar vind ook blykbaar onwettige aktiwiteite onder die brug plaas minder as 100 m van die Paarl-polisie se aanklagkantoor. Verder af, nader aan die Lady Grey-brug, is die toestand veel hagliker. Dit kan duidelik gesien word van die Cash and Carry- kant van die rivier, en is ’n skande.
Daar lê berge rommel rond. Miskien kan ’n helikopter- of hommeltuigvlug laag langs die oewers van die rivier die probleme uitlig? Waarom kan die hele gebied nie vir almal gerehabiliteer word, en die oop ruimtes by die munisipale kantore vir die haweloses ingerig word nie? Miskien kan die parkeerplek onder die munisipale gebou ingerig word as nagskuiling, en kan die luukse Duitse motors buite onder die afdakke in die parkeerterrein staan?
By inspeksie van die “konstruksieterrein” van die wandelpad op Vrydag (9 Junie) was daar meer vrae as antwoorde. Dit gaan nou al geruime tyd aan sonder enige sigbare vordering. Miskien kan die Drakenstein-munisipaliteit die Paarliete oor die kostes en konstruksiemaatskappy inlig. Ek dink dit is in die algemene openbare belang hoe geld aangewend word vir die “rehabilitasie” van die Bergrivier . . . en hopelik kan almal op dieselfde bladsy wees.
Sodra die basiese rehabilitasie van die rivier gedoen is, kan almal dit geniet. Daar is tog sekerlik die kundigheid en samewerking wat van hierdie projek ’n reusesukses kan maak wat tot almal se voordeel sal strek.
Die vordering van die “Eko-park” sal met groot belangstelling gevolg word. Mag ons die regte stappe neem om die Bergrivier te rehabiliteer asook die gemeenskap.
Sterkte, en mag dié opknapping die finansiële besteding regverdig. Dit sal van die “Eko-park”-projek ’n wen-wen- situasie maak, en die lewensaar van die vallei se voortbestaan beskerm en waarborg.




