Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash

Die nasionale gesondheidsdepartement het vandees-week sy besluit omgekeer om die handel in en invoer van kosprodukte wat kannabis en hennep bevat te kriminaliseer.

Pres. Cyril Ramaphosa het dié aankondiging Dinsdag (25 Maart) gemaak.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het op 7 Maart nuwe regulasies van die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettings- middels aangekondig wat dagga en hennep in kosprodukte verbied.

Dié nuwe regulasies is reeds in die Staatskoerant geproklameer.

Die verkoop, invoer en vervaardiging van produkte wat enige vorm van kannabis en hennep bevat sou, ingevolge die nuwe regulasies, onwettig wees.

Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het verlede week gewaarsku dat die regulasies die bydrae van die daggabedryf tot die land se ekonomie sou kniehalter.

“Hierdie stap is nie net ‘n bedreiging vir werksgeleenthede nie, maar ook ‘n direkte aanslag op ekonomiese groei en werkskepping.

“Die nasionale regering moet vinnig optree om die verbod om te keer en eerder die hennepbedryf ondersteun.”

As ‘n alternatief sal die nasionale wetgewer in oorleg met die gesondheidsdepartement nou eerder regulasies ontwikkel oor die impak van sulke produkte op mense se gesondheid.

Ramaphosa het in ‘n verklaring gesê konsultasie met die publiek en diegene in die kannabis- en hennepbedryf is noodsaaklik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article