Die afgelope naweek het die hemele weer oopgemaak en goeie reën oor die vallei gestort, met sneeu ook op die hoë pieke van Bolandse berge.
Hierdie is baie goeie nuus vir boere in die geheel, asook die breë publiek, terwyl damvlakke tans goed styg.
Maar, vir verskeie inwoners in die gebied aan die hange van Bainskloof is dit deesdae ’n nagmerrie wanneer die hemele open.
’n Plaaslike boer, Jan Stroebel, vertel in die 31 jaar wat hy op die plaas Die Gawe woon, het die stormwater vryelik weggespoel, maar nie meer sedert die herbou van die Bainskloofpas nie.
Dit is nou die tweede keer vanjaar dat stormwater dwarsoor die pad naby Bakkies se Padstal en tot in Stroebel se erf stroom. Die afgelope naweek se reën het veroorsaak dat sy tuin geheel en al verwoes is en grondpaaie in die gebied is ontoeganklik.
“Gister weer moes ’n voertuig hier naby uit ’n grondpad gesleep word waar dit in die modder vasgeval het,” het Stroebel Dinsdag vertel.
“Dit is ’n absolute gemors hier. Ek ry al sedert Sondag bakkievragte sand weg, wat weens die verspoelings hier beland het.”
Stroebel sê die probleem het sedert die Bainskloofpas-opknappings ontstaan.
Volgens hom is die nuwe stormwaterstelsel swak ontwerp.
“Die pad is nou só gebou dat, wanneer dit reën – en dit hoef nie eens so swaar te reën nie – loop die water aan die verkeerde kant van die pad af, en sleep daarmee boomstompe, sand ensovoorts saam, en waar dit onderdeur die pad moet vloei, vind ’n geweldige verstopping hieroor plaas. Dan vloei die water soos in riviere oor die pad en beland in my erf. Dit is eenvoudig – die ingenieur wat verantwoordelik was hiervoor het nie sy huiswerk gedoen nie. Voorheen het ons absoluut geen probleme met stormwater van die pas af gehad nie, omdat die loop van die dreineringstelsels doeltreffend was.”




