Hoewel die koeler weer die afgelope paar weke heelwat verligting gebring het ná die Bolandse hitte, is die weer nie heeltemal wat ons verwag vir dié tyd van die jaar nie.
Die afgelope paar weke se eendeweer het inwoners in hul winterklerekas laat krap vir klere om weerstand te bied teen die ysige oggende en nat dae.
Is die winter dan al hier en wat het van herfs geword? Herfs is tog een van die mooiste seisoene met die bome en wingerde se blare wat eers geel verkleur en die vallei omskep in ’n pragtige goue kombers wanneer die oggendson daarop skyn.
Talle inwoners meen ook dat hulle nie kan onthou of hulle al ooit so ’n nat Maartmaand hier beleef het nie.
Vir die dalende damvlakke is die reën goeie nuus, maar die landboubedryf ervaar gemengde gevoelens oor die groot vroeë reënval. Die reën haal wel die druk van boere af om self te besproei en bespaar ook op elektrisiteit om die besproeiingstelsel aan die gang te hou – dit is nou as dit nie beurtkrag is nie.
Maar vir die tafeldruiweboere hou die groot reëns dié tyd van die jaar weer negatiewe gevolge in, wat ’n mens laat dink aan die gesegde dat ons almal in dieselfde storm mag wees, maar nie almal in dieselfde bootjie vaar nie.




