Die eienaardige reënbuie wat die afgelope paar maande oor die vallei uitsak, het al Kapenaars se dankbaarheid laat vloei, maar ook vele uitdagings oor vrugteboere se boorde gestort.
Volgens een van Paarl Post se getroue reënval-monitors, Derick Clift, het die hemel se sluise altesaam 128,5 mm in Maart uitgestort, teenoor Februarie se 29 mm.
“Dit is nie ongewoon om reën te kry nie, maar heeltemal ongewoon om sulke frekwensies van reënbuie te hê. Wanneer ons die stormweer wat ons op 16 Desember ervaar het ook in ag neem, en waar daar gevalle van haelskade ook gerapporteer is, dan is dit heeltemal ongewoon!”
Wanneer jy die afgelope week se reën bytel, meen Clift, is dit die 10de front wat oor die afgelope vyf weke reën gebring het.
“Dit is erg nadelig vir vrugteboere en veral vir die laat kultivars. Die reën is nie net nadelig nie, maar beteken ook verlore werksdae en agterstallige produksie.”
Freddie Kirsten, wat met tafeldruiwe en fynbos-blomme in die Paarl op die plaas Eureka boer, voel bietjie verdeeld oor die swaar reën wat die afgelope tyd geval het.
Op die vraag oor hoe die reënval sy boerdery geaffekteer het en of hy dit verwelkom, sê Kirsten: “Dit is baie moeilik vir my om dit te beantwoord, want kyk, jou interpretasie daarvan gaan wees in watter tyd jy geoes het. Daar is sekere mense se laat tafeldruif-oeste wat negatief beïnvloed is deur die reën, want jy wil nie so laat reën hê op jou tafeldruif nie. Ons verwelkom die reën, maar uiteraard met tafeldruiwe verkies ons ’n droë oestyd. Daar was ’n klomp reën in Desember, in laat Februarie en ook nou in Maart wat nie voordelig is vir tafeldruiwe nie, maar oor die algemeen het ons baie goeie weer deur die seisoen gehad.”
Volgens Kirsten begin oestyd vir tafeldruiwe gewoonlik in die tweede laaste week van Desember. “Ons het die einde Februarie klaar geoes, maar tafeldruif-oestyd maak gewoonlik in die Paarl klaar in die laaste of tweede laaste week van Maart. Ons het die reën in Maart gemis, maar daar is ander boere wat later tafeldruiwe oes en die klomp reën was glad nie positief nie.”
Kirsten het ook gedeel wat die gemiddelde reënval is wat die afgelope 80 jaar op die plaas gemeet is.
“Ons het in Maart 102 mm reën gekry en ons gemiddelde reënval vir Maart die afgelope 80 jaar is 22 mm. Ons het in Februarie 22 mm gekry en ons gemiddelde is 17 mm.”
Jacky Goliath, besturende direkteur by De Fynne Nursery wat ook in die Paarl geleë is, sê sy ontvang die buitengewone reënval in Maart met ope arms.
“Vir ons was die reën goed, want dit was dan nie nodig om te besproei nie. Geen elektrisiteit is dus gebruik nie en beurtkrag gedurende die nat dae het geen invloed op ons besproeiingsplanne gehad nie.”
Goliath kweek fynbos, inheemse plante en blommende potplante. Sy verduidelik dat hulle ook kontrak-groei vir kliënte doen.
“Dit beteken waar ons plante/ bome vir kliënte kweek binne ’n vasgestelde tydperk teen ’n vasgestelde prys. Ons maak, okuleer en groei ook vrugtebome in plantsakke vir die tuinbou-kleinhandel en kommersiële landboubedryf.”
Soos met die swaar reën wat onlangs geval het, let Goliath ook op dat die weer al meer koeler is in Maart as ander jare. Sy sê die koeler weer kan dus daartoe lei dat potplante vroeër as gewoonlik begin blom. “Dit kan ’n voor- en nadeel wees, want jy kom óf vroeër in die mark, óf jou beplanning is heel van koers af met die blommende potplante wat bestem was vir ’n sekere tydperk en mark.”




