“Sy het haar wedloop met volharding voltooi. Sy vlieg hoog en hardloop met die breedste glimlag – sy is vry.”
Hierdie is deel van die roerende nagedagtenis aan wyle Jana Weyers (née Le Roux), wat haar vriendin Suzaan Janse van Vuuren gedeel het toe sy oor die afsterwe van die plaaslike atleet gepraat het.
Die 24-jarige is verlede Donderdag (14 November) in die Cape Gate Mediclinic ná haar stryd teen ’n seldsame kanker, ewing sarcoma, oorlede.
Jana het verlede jaar met Paarl Post gesels oor die pad wat sy moes aandurf nadat kanker in 2022 by haar gediagnoseer is. Met haar storie wou sy ander inspireer.
Jana het in 2018 aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer. Sy het die volgende jaar haar tasse gepak vir haar naskoolse studies in Amerika. Vir die eerste twee jaar was sy by Oklahoma Baptist University in Oklahoma, waarna sy haar derde en vierde jaar aan Biola University in Kalifornië voltooi het. Tydens haar derde jaar is kanker by haar gediagnoseer.
Jana het vertel dat sy haar heup gebreek het en dat dit ’n moeilike pad na herstel was. As iemand wat haar hele lewe lank aktief was, het Jana gesukkel om oefening te doen omdat sy moeg was, gesukkel het met haar asemhaling en dit gevoel het asof haar bene haar nie kon dra nie.
Nadat sy verskeie dokters in Amerika geraadpleeg het en nie kon uitvind wat fout is nie, het Jana besluit om tydens haar vakansie ’n kardioloog in Suid-Afrika te besoek. Kort nadat ’n dokter haar ondersoek het en sy verskeie toetse ondergaan het, het Jana die diagnose ontvang.
“Ewing sarcoma is ’n skaars soort beenkanker wat gewoonlik in kinders tussen 10 en 16 jaar gesien word. Ek moes onmiddellik met chemoterapie begin en het elke tweede week vir behandeling gegaan,” het Jana vertel.
Ná verskeie behandelings was Jana kankervry, tog het sy elke oomblik gekoester omdat sy geweet het die kanker kon enige tyd weer terugkeer.
“Ek het geen idee waar ek volgende week of oor 10 jaar gaan wees nie. Al wat ek het, is vandag. Ek het ’n 20%-kans om oor die volgende paar jaar kankervry te bly en benut ten volle dit wat ek het.”
Ten spyte daarvan dat sy jonk dood is en die 20%-kans nie in haar guns getel het nie, het Jana ’n vol lewe gehad en sy het geweet dat sy geliefd is. Sy het in haar kort tydjie op aarde baie vermag. Dit sluit in dat Jana twee keer ’n finalis was in die Paarl Post– en Supersport-kompetisie, wat sportiewe jeugdiges vereer het vir hul harde werk en prestasies.
“Soos gegraveer op haar arm, Jeremia 29:11, sal sy vir altyd voortleef en onthou word vir haar onblusbare entoesiasme en veggees,” sê Janse van Vuuren.
Jana was gereed vir enigiets wat oor haar pad kom en elke struikelblok het sy met geloof aangepak en oorkom. Die Bybelvers wat op haar arm getatoeëer is, is ’n bewys hiervan. Dit lui: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”
Volgens Janse van Vuuren sal sy altyd haar vriendin as ’n sterk vrou onthou wat mooi van binne en buite was.
“Sy was iemand wat regtig, ongeag haar kondisie en hoe siek sy was, elke dag voluit geleef het. Ek dink deursettingsvermoë en haar veggees is regtig iets wat ander inspireer, en hoe sy standvastig was in haar geloof en altyd hoop gehad het. Sy het met soveel entoesiasme en energie gelewe. Sy was vol van soveel vreugde en lewenslus, al het sy meer siek dae as gesonde dae gehad die afgelope tyd.”
Janse van Vuuren vertel haar hart is net bly dat Jana die geleentheid gehad het drie maande gelede om met die liefde van lewe, Franco Weyers, te trou.
Jana se dood is ’n groot slag vir haar familie en vriende, maar hulle berus hulle daarby dat sy nie meer pyn verduur nie en dat sy hopelik ander geïnspireer het soos wat haar hart begeer het.
In ’n onderhoud in 2019 met Paarl Post het Jana jongmense bemoedig om “groot te droom”.
“Jou potensiaal het geen einde nie, so moenie enige limiete stel nie; jy is tot meer in staat as wat jy ooit sal besef. Al wat jy moet doen is om in jouself te glo en natuurlik elke dag hard te werk.
“Dis nie altyd maklik nie; gewis nie. Dit stormreën en dis koud en soms wil ek ook net ’n bietjie laat slaap, maar geleenthede soos hierdie kom nie as ’n mens laat slaap nie. Die Here gee jou die talent en geleentheid, maar dit hang van jou af wat jy daarmee doen,” het sy voor haar vertrek na Amerika gesê.
’n Begrafnisdiens is gister in Durbanville vir haar gehou en is regstreeks uitgesaai sodat haar vriende van oorsee ook kon inskakel. Biola University het ook onlangs ’n kampus-gedenkdiens vir Jana gehou.





