Die bekende Paarlse rugbyman Randy Marinus (68), se seun, Arynn Marinus (35), is die afgelope Maandag (22 Januarie) onverwags oorlede.
Arynn het saam met sy skoonfamilie in Langvlei in die Paarl gewoon. Hy het aan die New Orleans Sekondêre Skool gematrikuleer.
Hy is Maandag (22 Januarie) dokter toe omdat hy ongesteld was en sowat twee ure daarna is hy dood in sy bed aangetref.
Volgens Randy is ontsteking in die dikderm by hom gediagnoseer. Ná die doktersondersoek het hy medisyne by die apteek gekry en hy is huis toe.
“Sy skoonpa het ’n tydjie later gaan inloer en gesien hy lê met sy kussing op sy bors. Hy het aangeneem hy slaap. Sowat tien minute later het sy skoonpa weer gaan inloer, maar toe lê Arynn steeds in dieselfde posisie.
“Sy skoonpa het hom probeer wakker maak om te kyk of dit nog oukei gaan met hom, maar hy het nie wakker geword nie,” het sy ma, Juliet, gesê.
Arynn se niggie Tandy-Lee Marinus het telefonies aan Paarl Post gesê Arynn het ’n geruime tyd voor sy dood “probleme met sy maag gehad”, maar die familie weet nie presies waaraan hy dood is nie.
“Die hospitaal het gesê hy [Arynn] is aan natuurlike oorsake oorlede; ons gaan dit daar laat,” het sy ma gesê.
Volgens Tandy-Lee was Arynn, hoewel hy nie self rugby gespeel het nie, “baie lief vir enige sport”.
“Hy was ’n groot All Blacks-ondersteuner, wat groot discussions om die tafel begin het.
“Hy was ook ’n Manchester United fan.”
Die familie het die afgelope Sondag (21 Januarie) se krieketwedstryd, wat in die Paarl plaasgevind het, op televisie gekyk.
Volgens Tandy-Lee was haar neef se laaste woorde aan haar: “Did the Royals [SA20-span] win?” waarna sy geantwoord het “Yes, they won with a bonus point.”
Volgens Juliet sal sy haar seun se “beeldskone glimlag” mis.
“Hy het soveel goeie eienskappe gehad. Hy was altyd gelukkig en het nooit gewys hy is ongelukkig nie.
“Hy het mense maklik vergewe en nooit wrokke gekoester nie,” het sy ma bygevoeg.
Volgens Claudia Marinus, Arynn se vrou, was haar man ’n “ongelooflike pa en man en baie hardwerkend en itelligent”.
“Sy dogtertjie was ’n totale daddy’s girl,” volgens die familie.
Arynn was ’n bestuurder by QP Laser in Paarl, en word oorleef deur sy vrou, Claudia, en sy driejarige dogtertjie, Ahria Grace.
Geen spesifieke begrafnisreëlings was teen druktyd bekend nie, maar ’n gedenkdiens sal vandag (Donderdag 25 Januarie) plaasvind, waarna die begrafnis Saterdag sal geskied.
Spesifieke tye moet nog bepaal word.. Randy het in die 1970’s en ’80’s vir die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie (SARF) asook die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) rugby gespeel en was ook in ’n stadium kaptein van die span, het die SA Rugby-tydskrif in 2018 berig.





