Ek skryf ek na aanleiding van Internasionale Radiodag, wat vandeesweek (Dinsdag 13 Februarie) vanjaar gevier is.
Aan almal wat op die een of ander manier by radio betrokke was (dit is van radio vervaardig, radio verkoop, radio luister en radio herstel) – sonder die radiostasies, hul bestuur en verskillende aanbieders en torings kan niks gebeur nie.
As ’n bewys van hoe sterk radio is, het ’n bekende posbestellingsondeneming ’n musiekalbum in die vorm van langspeelplate en kassette met die naam Play it Again onlangs te koop aangebied.
Op die advertensiebrosjure lees ek: “the most radio requests of all time” met altesaam 108 treffers bestaande uit:
1. Versoektyd;
2. Weermag-favourites;
3. Instrumentele treffers;
4. Klankbane;
5. Liefdesliedjies;
6. Uit die verlede;
7. Altyd gewilde ballades, en
8. Speel dit weer.
Die album is saamgestel in agt stereo-langspeelplate of vier dubbele lang kassette.
Dit wys wat alles oor die radio gehoor is. Boonop word heelwat van die musiek steeds op verskeie radiostasies gespeel.
Ek het met ’n radio grootgeword, want my pa kon nie sien nie en die radio was deel van sy lewe.
Voor televisie was die radio deel van almal se lewe.
As bewonderaar van wyle Gerhard “Spiekeries” Viviers, die legendariese rugbykommentator, neem ek julle ook met ’n SAUK-produksie deur Gerhard Viviers terug na die eerste toets teen Nieu-Seeland op 25 Julie 1970 op Loftus Versveld in Pretoria.
Wanneer die arm van die platespeler op die oorspronklike MFP- langspeelplaat plaat nr. 54559 op die eerste helfte van kant twee sak, sê wyle Spiekeries onder meer: “Ons wil tog vir die mense daar aan die oorkant vra wat die radio ’n bietjie hard aan het, om hom net so ’n bietjie af te draai, dit is verskriklik hinderlik om hom so in die ore te hoor.”
Ek sluit af met die geslote Springbokradio se Silwerjubileum-parade, 1950 – 1975.
Wanneer die arm van die platespeler sak op kant een, sê wyle Oom Dana Niehaus onder meer “veels geluk met die verlede en voorspoed vir die toekoms aan u gunstelingstasie toegewens”.
Dis my boodskap ook aan elke radiostasie, of dit nasionaal of plaaslik is.




