Die brief van JP, Paarl: “Geagte Raadslede, hokaai! Werk saam!” in Paarl Post van22 Junie word deur die VF Plus as ’n tydige besigtiging verwelkom.
Die VF Plus, gesekondeer deur alle opposisiepartye, behalwe die ACDP, se mosie om die funksionaliteit van die Drakenstein te bespreek, is summier deur die speaker afgewys deur misbruik te maak van sy sogenaamde “diskresie” – bloot vir partypolitieke vooroordeel.
Ons neem deel aan debatte in raadsvergaderings, maar ons word blatant weerhou om vrae en/of mosies op die sakelys vir openlike debat te plaas en om insette te lewer – weer eens as gevolg van die speaker se blatante partypolitieke vooroordele.
Die paar vrae wat hulle beantwoord het, was eerstens onvoldoende en nie in die sakelys publiseer nie, maar erger nog, in bruin koeverte aan ons beskikbaar gestel om enige inhoud van die belastingbetalers te weerhou!
Met ons induksie as raadslede in 2021 is opposisie- proporsioneel verkose raadslede op een portefeuljekomitee verkies, maar ons het agendas van alle komitees ontvang met die reg om vergaderings by te woon en met die instemming van die voorsitter vrae te stel en deel te neem – weer eens met die instemming van die voorsitter.
Dit is ná enkele maande summier van ons ontneem in terme van die “prerogatief” van die burgemeester.
Net so is ons bywoning as waarnemers by die burgemeesters-komitee summier van ons ontneem!
Die minimum wat hulle behoort te doen, is om deurlopend met opposisiepartye te kommunikeer, en dit gaan bars.
Die VF Plus is bereid om met JP, Paarl en enige ander belastingbetalers in belang van die Drakenstein in gesprek te tree.
André Fourie




