Die Drakenstein-munisipaliteit het ’n beloning van R5 000 uitgeloof vir enigiemand met inligting oor ’n saak van brandstigting wat ondersoek word nadat die veld rondom die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg die afgelope naweek op minstens ses plekke glo opsetlik aan die brand gesteek is.
Die afgelope naweek se brande volg bykans ’n jaar nadat ’n brand by die einste aanleg tot ’n onaangename reuk in Wellington asook groot dele van die Paarl gelei het.
Inwoners het die naweek weer hul misnoeë oor die “stank” op sosiale media gedeel, en wou weet hoekom die munisipaliteit nie die probleem kan oplos nie.
Die eerste brand, waarvan die oorsaak nog ondersoek word, het laat Vrydagmiddag (15 November) uitgebreek.
Munisipale branddienste asook branddienste van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit is weer Saterdag na die aanleg ontplooi nadat die brand van die vorige dag weer opgevlam het en die vuur is teen laat Saterdagaand geblus.
Sondagmiddag is die veld rondom die aanleg volgens die munisipaliteit op minstens ses plekke opsetlik aan die brand gesteek.
Die brand is toe eers teen 17:00 Maandagmiddag volledig ingekamp.
Louis Pienaar, uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste, het vandeesweek by navraag benadruk dat die bestryding van brande by die aanleg bemoeilik word wanneer die vuur die rypwordingsdamme, wat nie meer gebruik word nie, bereik.
Dit is glo hier waar ou droë rioolslyk dikwels ná ’n brand nog sal smeul en dis wat vermoedelik tot die stank lei.
“Hierdie gebiede word al vir ’n baie lang tyd nie meer gebruik nie en vorm geensins deel van die aanleg se huidige aktiwiteite nie.
“Ons het reeds met ’n proses begin om die ou slyk na kompos-aanlegte te vervoer en om die oorblywende materiaal te bedek.
“Brandpaaie om die aanleg word ook gereed skoongemaak en in stand gehou,” sê Pienaar.
Hy sê verder die afgelope naweek se stank is nie net deur die brand by die aanleg veroorsaak nie, maar is ook aangehits deur ander veldbrande in die omgewing.
“Buiten die gesondheidsrisiko wat met rookinaseming weens sulke veldbrande en eintlik maar enige brand gepaard gaan, kan ons inwoners verseker dat die stank geen gesondheidsrisiko inhou nie.”
Pienaar sê Sondag se vermeende brandstigting word in oorleg met die plaaslike polisie ondersoek.





