Carel Lotz is die waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit.


Hoe bepaal die munisipaliteit wat die kragtariewe per eenheid gaan wees? Die Drakenstein-munisipaliteit bepaal elektrisiteitstariewe aan die hand van verskeie faktore, soos riglyne van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wat die munisipaliteit moet volg; die aankoopprys van grootmaat-elektrisiteit; en die gebruik van ’n studie wat gedoen word om alle insetkostes vir die bepaling van die elektrisiteitsverkoopprys in berekening te bring. Ons tref ook vergelykings met ander munisipaliteite se tariewe om te verseker dat ons tariewe in pas is met die norm.

Wat is die nuwe kragtarief per eenheid? Die tariefstruktuur maak voorsiening vir ’n verskeidenheid verbruikers – van huishoudelike tot swaarnywerhede-gebruikers. Hierdie tariefstruktuur is beskikbaar in die 2022-’23-tarieweboek op die munisipale webtuiste by www.drakenstein.gov.za. Wat die gewone huishoudelike tarief betref, beloop dit R2,0972 per kWh (BTW uitgesluit).

Verskil die koste van eenhede per woonbuurt of hoeveel elektrisiteit jy koop of hoeveel jy gebruik of die tyd van die dag wat jy elektrisiteit gebruik? Daar is geen verskil per gebied of woonbuurt nie. Slegs waar Eskom die verspreider is, verskil die tariewe van die munisipale tariewe en is Eskom se tariewe van toepassing. Daar is ook geen verskil rakende die tyd van die dag vir huishoudelike verbruik nie. Daar is ook geen “tyd van gebruik”-tariewe vir huishoudelike verbruikers nie.

Wat is die verskillende vaste kostes vir elektrisiteit? Die huishoudelike, enkelfase-tariewe is vir: 20 ampère (amp) – geen koste; 30 amp – R231; 40 amp – R393,20; 50 amp – R491,50 en 60 amp – R589,80. Alle bogenoemde tariewe sluit BTW uit.

Wat is die tariefverhoging wat Eskom aan die munisipaliteit hef teenoor die tariefverhoging wat die Drakenstein op 1 Julie vir inwoners ingestel het? Eskom se tariefverhoging vir die 2022-’23-boekjaar is 8,61%, terwyl die munisipaliteit ’n verhoging van 7,47% van sy verbruikers hef. Die munisipaliteit dek die persentasieverskil deur verskeie faktore, soos die wyse waarop die elektrisiteitsnetwerk en -stelsel bestuur word, sowel as die samestelling van tariewe as ’n geheel, en die feit dat die massa-aankope nie 100% van die algehele koste van verkope verteenwoordig nie.

Is dit beter vir inwoners om eenmalig ’n groot hoeveelheid elektrisiteit te koop of klein bedrae deur die loop van die maand? Vir huishoudelike verbruikers wat koopkrag gebruik, is daar geen verskil tussen dié twee maniere van aankoop nie. Die eenheidskostes bly konstant, ongeag die aantal eenhede of aankope.

Is daar ’n maksimum hoeveelheid elektrisiteit wat inwoners per maand op ’n keer kan koop, en indien wel, waarom? Ja, vir derdeparty- aanlyn aankope asook aankope direk by die munisipale kassiere is die beperking R10 000 per transaksie. Dié beperking is ingebou om veiligheidsredes en die beskerming van foutiewe aankope.

Is koopkrag beter as die konvensionele aansluitings? Dit hang af. Omdat koopkrag makliker deur verbruikers beheer kan word (hoeveel eenhede op ’n keer aangekoop word en beskikbaar is om verbruik te word), word dit soms as beter as konvensionele aansluitings beskou.

Wat moet inwoners doen indien hulle hul huis se ampère-aansluitings wil verlaag?Verbruikers kan by hul naaste munisipale kantoor aansoek doen om die verlaging van hul ampère-aansluitings. Die munisipaliteit doen dit gratis.

Kan inwoners heeltemal afgaan van die munisipale kragnetwerk en hul eie krag opwek sonder om enig
sins op die kragnetwerk te wees? Ja, inwoners kan aansoek doen om heeltemal van die munisipaliteit se kragnetwerk af te gaan en hul eie krag opwek. Baie inwoners kla dat die munisipaliteit ’n buitensporige wins maak uit elektrisiteit deur hul elektrisiteitskostes hoog te hou – is dit waar? Die Drakenstein-munisipaliteit maak gewis nie ’n buitensporige wins op elektrisiteitsverkope nie. Nersa verhoed dat buitensporige winste gemaak word deur die tariewe te beheer. Die wet bepaal ’n redelike wins van tussen 10% en 20% is aanvaarbaar. Die Drakenstein-munisipaliteit se wins op elektrisiteit in die 2021-’22-boekjaar was 12,7%. Ons benadering is om die tariewe so laag as moontlik te hou. Dit is duidelik uit die feit dat die munisipaliteit in die nuwe boekjaar elektrisiteitstariewe met net 7,47% verhoog het, terwyl ons Eskom 8,61% meer vir grootmaat-elektrisiteit moet betaal. Die Drakenstein-munisipaliteit se elektrisiteitstariefverhoging vir die nuwe boekjaar is ook laer as dié van die meeste ander omliggende munisipaliteite.

Baie meen Drakenstein se elektrisiteit is duurder as dié van ons buurmunisipaliteite, waaronder Kaapstad. Is dit waar? Nee, dit is nie die geval as ons appels met appels vergelyk nie. Om ’n behoorlike vergelyking te kan tref, moet die verskillende tariefstrukture van munisipaliteite en hul eie goedgekeurde verhogings in ag geneem word.

Watter rol vervul die inkomste uit elektrisiteit vir die munisipaliteit en wat doen die munisipaliteit daarmee? Elektrisiteit is ’n handelsdiens. Die munisipaliteit gebruik die inkomste van elektrisiteitsverkope om die munisipaliteit se elektrisiteitsuitgawes te dek, wat onder meer insluit die aankope van grootmaat-elektrisiteit by Eskom en die instandhouding van elektrisiteitsnetwerke. Ons gebruik die surplusgedeelte om toekomstige die kapitale uitleg vir elektrisiteit-infrastruktuur te finansier.. Lees op bladsy 8 oor ’n inwoner se vrae oor elektrisiteit in die Drakenstein asook die terugvoering wat die munisipaliteit daarop gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article