Wat ’n heerlike Paasnaweek was dit nou nie, veral as ’n mens gesien het hoe die verkeersdienste se sigbaar­heid op die paaie vanjaar tops was!

Elke jaar is die dodetal van lewens wat oor die land se paaie heen geëis word ’n bitter hartseer affêre. Daar is nogtans g’n twyfel dat talle families steeds tragiese verliese in stede van die opwindende verwagtings van ’n heerlike wegbreek-naweek in die gesig gestaar het nie.

Nietemin moet ons die manne en vroue wat net so hul lewe op die spel plaas deur sigbaarheid op ons landelike en nasionale paaie te verbeter, vir hul harde werk en vakansie-opofferings eerbiedig.

Terwyl meeste Suid-Afrikaners by vriende en familie kon afpak en ontspan, was verkeersbeamptes soggens vroeg uit, soms in die koel motreën-toestande, en sommiges nou weer saans tot laat wanneer dronkbestuurders kanse waag en ander mense se lewe in gevaar stel.

Al dié terwyl meeste van ons heerlik saam snoekgeregte met heerlike soetpatats kon eet, feestelike paaseiers in die tuin kon wegsteek en kyk hoe ons kinders in pure opwinding hul sjokolade hasie-lekkernye tussen die blomme en die blare uitgrawe.

En dan natuurlik die grootmense se bederf met heerlike Paasbolletjies!

In die Wes-Kaap was daar vanjaar ’n aansienlike verbetering in die beplanning en voorsiening vir hoë volumes verkeer deur die Hugenote-tonnel. Oral op verskeie paaie was die wit, blou en geel verkeersmotors met groot geel reflekterende verkeersborde te siene by die gereelde intervalle van padblokkades wat motoriste op hul tone hou.

Die provinsiale minister van mobiliteit, Ricardo Mackenzie, het nogal genoem dat verlede jaar se dodetal op die Wes-Kaapse paaie gedurende die Paasnaweek iets meer as 30 lewensverliese getoon het. Dit sal nou nogal interessant wees om te sien wat dié deeglike beplanning aan vanjaar se dodetal gemaak het. Maar al was daar een dood minder, sou dit alles die moeite werd wees.

Aan ons staatsamptenare wat ons regdeur openbare vakansiedae beveilig, wil ek baie dankie sê!

Aan elke persoon wat iemand aan die dood afgestaan het gedurende dié Paasnaweek in ’n tragiese ongeluk of frats, ek bid onse Vader se bonatuurlike genade en genesing oor jou. En aan elke sondaar wat waaghalsig oor ons paaie heen gejaag het, weet dat onse Jesus Christus vir jou baie lief het, en aan die kruis gesterf het vir ons almal se sonde.


Kind van Jesus,

Wellington

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article