Die dood is snaaks – dit kom wanneer jy dit die minste verwag. Dit kom soos ’n “dief in die nag”, soos dit in die Bybel gestel word. Niemand verwag dus die dood nie. Maar iets val my op as mens, as man, as pa en as joernalis. Deesdae spring almal op die spreekwoordelike band wagon wanneer iemand doodgaan. Laat ek eers uitbrei voordat jy kommentaar lewer.

Die laaste ruk was daar vele gevalle waar bekendes en minder bekendes oorlede is en eers ná hul dood het verskeie mense ’n ophef oor hul lewe gemaak. Dis vreemd, want toe dieselfde mense nog gelewe het, is geen ophef oor hul lewe gemaak nie. Nie een van die “hartseer” stemme het werklik die mense wat oorlede is, se lewe ooit gevier toe hulle nog springlewendig was nie.

Dis asof die dood deesdae amper soos ’n leë perdewa is. Elkeen wil op die wa spring en hul mening en ‘‘respek” op sosiale media betoon. In baie gevalle beaam die sosialemediagebruiker dat hy / sy “nooit werklik die persoon geken het nie”, maar elkeen wil tog iets byvoeg.

Die dood het ’n? geleentheid geword om jou “eie” stem te laat hoor. Dit het ’n? verskoning geword om jou eie stertjie by te las.

Die interessantheid van sosiale media is ook die feit dat ’n mens ander mense se kommentare kan lees en onlangs het die sangeres Lily Allen se kommentaar oor die eerbetonings aan Sinéad O’Connor die spyker op die kop geslaan.

O’Connor, ?’n Ierse sanger, liedjieskrywer en politieke aktivis, was nie almal se cup of tea nie. Maar met haar dood het almal “iets goeds” oor haar te sê gehad. Dis vreemd, want O’Connor was nie almal se gunsteling nie. Nee sy was nie Kurt Darren of Bles nie; sy het mense se vere omgekrap, maar met haar dood het almal op die wa gespring.

Elkeen het iets “mooi” te sê gehad en Allen het, nes ek, gedink dis pure strooi.

“If you can’t stand up for people in life, don’t do it in death . . .” was haar siening oor almal se kommentaar oor O’Connor.

Dis waar. Prys iemand wanneer hulle nog lewe, nie wanneer hulle dood is nie. Dis dan te laat en vals, veral as jy so iemand nie persoonlik geken het nie.

Dis ook waar dat ’n profeet nooit in sy eie land geprys word nie, maar om dan geprys te word uit ander mense se oogpunt om “gesien” te word en om op die “wa” te spring, is nie reg nie. Omdat almal dit doen, beteken nie jy moet dit ook doen nie.

Prys die lewendes terwyl hulle nog lewe. Treur oor die dooies (as jy hulle geken het), maar moenie ’n sleutelbord-kryger word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article